Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gerugte van ‘huffing’ by George-skool wórd ondersoek

Ouers van leerlinge van die Hoërskool Outeniqua in George is glo ongelukkig omdat nie opgetree word teen leerlinge wat na bewering chemikalieë inasem nie – ’n praktyk bekend as “huffing”.

In ’n brief aan Netwerk24 skryf ’n ouer daar is tydens die onlangse Wildeklawer-rugbytoernooi in Kimberley ontdek dat van die rugbyspelers van die skool dit glo doen.

Een van die afrigters is glo daaroor ingelig, maar het niks aan die saak gedoen nie.

Die rugbyveld van die Hoërskool Outeniqua in George. Beweringe doen die ronde dat leerlinge wat vir een van die skool se junior rugbyspanne speel hulle aan “huffing” skuldig maak. Foto: Facebook

Kommer heers nou dat daar niks van die klagtes gaan kom nie en dat nog leerlinge en rugbyspelers aan die gebruik blootgestel word.

Dit word glo voor ander koshuisgangers gedoen. Die voorbokke is glo ’n groep van vyf rugbyspelers van een van die junior rugbyspanne. Tydens die toernooi en glo selfs ná die toernooi, in hul koshuis in George, het hulle onder meer reukweerder deur ’n handdoek gespuit en die walms dan ingeasem.

Nog ’n junior rugbyspeler is glo ook reeds touwys gemaak.

Daar word nou gesê die skool se optrede of gebrek daaraan is strydig met die hantering van ’n voorval ’n paar maande gelede toe drank in die koshuiskamer van vyf junior rugbyspelers gevind is. Dié seuns is na bewering gevra om die koshuis dadelik te verlaat en hul rugbybeurse is glo ook teruggetrek.

Navrae is aan die skool gestuur, maar dit is na die Wes-Kaapse onderwysdepartement verwys.

Millicent Merton, ’n WKOD-woordvoerder, het Maandag namens die skool geantwoord.

Sy het gesê die beweringe is nie onmiddellik onder die skool se aandag gebring nie, maar die skool het wel met ’n ondersoek begin nadat dit onder die hoof en skoolbestuur se aandag gebring is.

Sy sê daar is nie veel bekend oor “huffing” nie en die ondersoek duur daarom langer.

“Dit is ook nie ’n geval van dat verskillende reëls vir verskillende groepe rugbyspelers geld nie. Leerlinge word gereeld getoets en die skool het ondersteuningsprogramme om leerlinge met middelafhanklikheid te help.

“Om spesifiek vir ‘huffing’ te toets, is moeilik en ons is tans in gesprek met die patoloë.”

Merton het ontken dat enige leerling in 2019 as gevolg van die besit van drank uit die koshuis geskors is.

Meer oor:  Wkod  |  Wildeklawer-Rugbytoernooi  |  George  |  Gerugte  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.