Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Geskiedenis ‘moet buite skoolmure oorgedra word’

Twee van die land se vooraanstaande geskiedskrywers het Woensdagaand op die Vrystaat Kunstefees gesê geskiedenis moet buite die skoolmure oorgedra en gedebatteer word.

Van links is prof. André Wessels, gespreksleier, met dr. Dan Sleigh en prof. Hermann Giliomee op die Vrystaat Kunstefees in gesprek. Foto: Charné Kemp

Dr. Dan Sleigh en prof. Hermann Giliomee, akademici en bekroonde skrywers wat aan die Hulde aan Helde-gespreksessie deelgeneem het, het staande applous gekry.

Bykomende stoele moes by die stampvol saal in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum ingedra word.

Sleigh en Giliomee word albei vanjaar 80 jaar oud.

Benewens die gewigtige en bekroonde romans, boeke en navorsing wat hulle neergepen het, is albei ook te sien in Die Afrikaners, ’n TV-reeks op kykNET oor die geskiedenis van die Afrikaner, waaroor Giliomee ook boeke geskryf het.

Giliomee meen die regering se voorneme om die vak lewensoriëntering met geskiedenis vervang, is nie wenslik nie.

“Geskiedenis moet eerder as lewendige debat buite die skool aangebied word, want daar is nie ’n absolute waarheid nie.

“Ek is dankbaar dat die TV-reeks uitgesaai word om die geskiedenis te vertel. Meer sulke programme moet gemaak word.”

Sleigh meen geskiedenis is sowel ’n wetenskap as ’n kuns.

“Ek moes kuns in my romans gebruik om die geskiedenis verbeeldingryk uit te beeld.”

Sleigh sê wanneer hy ’n boek skryf, het hy reeds die navorsing begryp.

Dr. Dan Sleigh skerts met mense wat by die gespreksessie op die Vrystaat Kunstefees boeke gekoop het. Foto: Charné Kemp

“Ek skryf die boek uit my kop uit.”

Giliomee sê Suid-Afrika beleef aan die einde van elke eeu ’n enorme strukturele krisis waarvan die toekoms onseker is.

“Teen 1795 was die Oos-Indiese Kompanjie bankrot, onderwys niebestaande, amptenare het hulself verryk en boere was gebelg oor die regering se gebrek aan beskerming. Teen 1902 het die Anglo-Boereoorlog die ekonomie byna gekelder.

“Tog kry mense dit altyd reg om weer op te staan en nuwe uitdagings aan te pak.”

Dit is insiggewend dat Andries Stockenström Piet Retief voor die Groot Trek gewaarsku het dat hulle sou ontaard in ’n yl verspreide bevolking wat van swart arbeid afhanklik is, “wat vandag dalk steeds die geval is”.

“Vandag staan geen Afrikaner-leier uit nie; nie eens taal kan die groepe verenig nie.”

Hy vind dit betreurenswaardig dat die regering hom ook nie aan bruin mense se behoeftes steur nie.

Suid-Afrika se jongste uitdaging is grondonteiening sonder vergoeding.

Sleigh en Giliomee is ook in etlike sake as deskundige getuies in grondeise betrek.

Daarbenewens is Sleigh betrokke by ’n organisasie wat geskiedkundige dokumente bewaar, vertaal en navors sodat feite bewaar en wanvoorstellings verkeerd bewys word.

Dr. Dan Sleigh (links) en prof. Hermann Giliomee, albei linkshandig, teken hul boeke vir lesers. Foto: Charné Kemp
Van links is prof. André Wessels, gespreksleier, dr. Dan Sleigh en prof. Hermann Giliomee. Foto: Charné Kemp

Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.