Agt leerlinge van die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein is tydelik geskors ná ’n bakleiery, maar die leerling wat glo die bakleiery veroorsaak het weens beweerde diefstal, het skotvry daarvan afgekom.
’n Seun in gr. 11 se tekenbord is glo gesteel en hy en sy ma het Donderdag ’n klag van diefstal by die polisie ingedien. Die naam van die seun en sy ma word weerhou om die minderjarige se identiteit te beskerm.

Die gr. 11-leerling aan die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein wie se rugsak met sy tekenbord, -boek en -toerusting na bewering deur 'n ander leerling gesteel is. Foto: Marita Herselman
Volgens dié ma is haar seun se rugsak met ’n tekenbord, -boek en -toerusting wat vir die vak ingenieursgrafika-en-ontwerp (IGO) gebruik word, nog nie terugbesorg nie. Dit het op 11 Julie weggeraak.
Die inhoud van die sak is sowat R1 500 werd, sê sy.
Die skool leen intussen die nodige goed aan die seun sodat hy met sy skoolwerk kan voortgaan.
Die ma is omgekrap omdat haar seun geskors en gestraf is, terwyl die verdagte volgens haar nog skoolgaan omdat hy nie self by die geveg betrokke was nie.
“

Die video van die geveg op 26 Julie wys hoe leerlinge van die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein mekaar rondstamp en die vuiste klap. Foto: Skermgreep
Hy loop rond. Hy is nie eens geskors nie, maar hy het die bakleiery veroorsaak.”
Die geskorste leerlinge sal weer Maandag skool toe kan gaan, nadat hulle van 8 tot 16 Augustus geskors is, gevolg deur nege dae se detensie van twee uur elk. Hulle is ook van sekere voorregte ontneem.
’n Video van die geveg op 26 Julie waar leerlinge mekaar rondstamp en die vuiste klap, is wyd versprei.
Die 17-jarige leerling sê hy het die beweerde diefstal by die skool aangemeld, maar toe daar niks van sy klagte kom nie, het hy op 24 Julie na beeldmateriaal van die kringtelevisiekameras in die klaskamer gekyk.
Sy ma sê die beeldmateriaal wys presies waar haar seun dié sak in die klas neersit.
Leerlinge kan hul sakke reeds soggens in die klas los sodat hulle nie heeldag daarmee hoef te loop nie, sê sy.
Ander groepe word ook deur die dag in dié klas onderrig.
Sy sê die video van die gr. 10’s in die IGO-klas, wys duidelik hoe die verdagte en sy maats wag totdat die klas verdaag voordat die sak gevat word.
“Jy sien hoe hy ook in ’n ander kind se sak krap voordat hy die sak optel.”
Op die video kan gesien word hoe die gr. 11-klas vir die vak terugkeer, haar seun reguit na sy sak loop, dadelik agterkom dis weg en oral daarna soek, sê sy.
Die leerling sê toe die skool op 25 Julie uitkom, het hy die verdagte gevra of hy sy tekenbord gevat het. Hy wou met hom na die skoolhoof gaan, maar die ander kind het glo geweier. Die onenigheid het die Donderdag uitgebrei na die leerlinge se onderskeie vriendekringe. Dit het uiteindelik die Vrydagoggend voor skool tot ’n groot geveg gelei. Die verdagte het nie baklei nie, sê die ma.
Lt.kol. Thabo Covane sê ’n klag van diefstal is by die polisie ingedien en dit word ondersoek.
Navrae is aan Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, gerig, maar hy het teen die spertyd nog nie gereageer nie.