Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Geweld, bendes in Vrystaat skole só gepak

Die Vrystaatse onderwysdepartement en die polisie het onlangs op verskeie Bloemfonteinse skole oor bendes, dwelms en gevaarlike wapens toegeslaan. Snuffelhonde is ook ingespan om dwelms in skooltasse en skoolklere uit te wys.

So het dr. Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, verlede week in sy begrotingsrede vir die onderwysdepartement in die Vrystaatse wetgewer in die Vierde Raadsaal in Bloemfontein gesê.

Dr. Tate MakgoeFoto: Facebook

“Ons het ook by 38 Vrystaatse skole skoolveiligheidsbeamptes in samewerking met die polisie aangestel. Dit is deur die uitgebreide openbare werke-program se toelae van die staat gefinansier en sal nie die aanstelling van veiligheidsbeamptes by die skole ondermyn nie. Hulle sal steeds aangestel word soos wat die begroting dit toelaat.”

Makgoe het gesê die skole in Bloemfontein waarop daar toegeslaan is, die Hoërskool Grasland, die Hoërskool Petunia, die Bainsvlei Comprehensive Combined School, die Hoërskool Navalsig en die Kaelang High School.

“Dwelms en gevaarlike wapens soos messe is by van die skole gekry,” sê Makgoe.

Hy sê skoolveiligheid het een van die grootste kwessies in die onderwys geword. “Geweld en misdaad, onaanvaarbare sosiale gedrag en swak dissipline het algemene verskynsels in ons skole geword.

“Leerlinge se lewens word deur bendegeweld, dwelms en dwelmafhanklikheid bedreig. Diefstal en die vandalisering van die bates en infrastruktuur is ’n voortslepende bedreiging vir die stabiliteit en voortbestaan van ons onderwysstelsel.”

Makgoe het ook gesê “die onwettige toepassing van lyfstraf en ander vorme van geweld tussen ons onderwysers en leerlinge, sowel as ouers, is ’n groot uitdaging in die skoolgemeenskappe in die Vrystaat”.

“Onveilige infrastruktuur by Vrystaatse skole is ook ’n gevaar vir ons leerlinge en onderwysers.”

Hy sê volgens die onlangse Teaching and Learning International Survey (Talis)-opname is bevind dat een van die groot bekommernisse van onderwysers hulle eie en hul leerlinge se veiligheid is terwyl hulle by die skool is.

Makgoe sê in 2018 het die implementering van protokol tussen die polisie en die Vrystaatse onderwysdepartement voortgegaan met uitdagings van skole wat nie skoolveiligheidsplanne en funksionele veiligheidskomitees het nie.

“Ons het al die skole met hul plaaslike polisiekantore in verbinding gebring sodat daar deurlopende kommunikasie tussen die skole en die polisiekantore is. ’n Databasis met die besonderhede van die “neem-’n-polisieman-aan-veldtog” en die profiel van elke skool is ontwikkel en aan die polisie oorhandig.”

Makgoe sê daar word nou met vennote saamgewerk om die vloedgolf van geweld en misdaad wat skole oorspoel, stop te sit. ’n Provinsiale beraad oor skoolveiligheid is in Februarie vanjaar gehou om skole weer veilig vir kinders en onderwysers te maak.

Hy sê ’n provinsiale bestuurskomitee oor skoolveiligheid, wat uit talle belanghebbendes bestaan, is tot stand gebring. “Dié komitee sal die onderwysdepartement onder meer adviseer oor die bekamping van skoolgeweld en swak dissipline.

’n Oudit van onveilige geboue en strukture by skole sal ook gedoen word.

Meer oor:  Vrystaat  |  Politiek  |  Bendegeweld  |  Begrotingsrede  |  Skole  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.