Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘G’n stryd om ontslae te raak van Engels by US’

Niemand verwag dat Engels as akademiese taal by die Universiteit Stellenbosch (US) afgeskaf moet word nie. Die poging om Afrikaans as akademiese taal te behou is allermins ’n stryd teen die gebruik van Engels.

So het die DAK Netwerk en Frederik van Dyk, namens StudentePlein, Maandag op ’n sitting van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor die beweerde skending van taalregte gesê en benadruk dat hulle nie probeer ontslae raak van Engels nie.

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk. Foto: Ané van Zyl

“Ons verstaan dat Engels gebruik kan word om beter begrip onder studente en kampuspersoneel te bewerkstellig,” het Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, gesê.

Maar om studente te verbied om Afrikaans te praat “is verregaande en iets moet daaraan gedoen word”.

Van Dyk het gesê: “Daar is eenvoudig geen bewyse van ’n anti-Engels-, ‘Afrikaans eerste’- of ’n taalapartheidsagenda in die bladsye van polemiese skryfwerk oor die onderwerp nie.

“Soos ons nie die Open Stellenbosch- en selfs die RhodesMustFall-beweging as ‘anti-wit’ kan afmaak nie, kan ’n mens nie die argumente vir die volhoubare, sinvolle insluiting van Afrikaans aan die US as ‘anti-Engels’ afmaak nie.”

Hy beweer die US gee nie sy leiers voldoende opleiding oor taal nie, en Engels word as die norm geag. Hy meen ook die US verdedig sy taalbeleid sonder om ag te slaan op wat in die werklikheid gebeur. Die universiteit leef in ’n alternatiewe werklikheid “geskep deur die blote bestaan van ’n beleid”.

Hy en dr. Amanda Lourens en prof. Harold Lesch, albei professore in Afrikaans aan die universiteit, het saamgestem dat daar ’n stigma is aan mense wat Afrikaans praat. Hulle bly eerder stil as om te vra vir leermateriaal of verduidelikings in Afrikaans.

Hulle sê die studente vrees dat hulle gebrandmerk sal word as hunkerend na die apartheidsjare.

Lesch en Lourens het ook gesê ’n onlangse vergadering met die US-bestuur was konstruktief en die bestuur het erken dit was ’n fout om nie meer Afrikaans as inheemse taal te erken nie in ooreenstemming met die besluit van die nasionale regering.

Ná dié vergadering is Marius Swart, ’n dosent in Afrikaans, by die taalbeleid-komitee gevoeg om insette te lewer.

Die getuienis sal vermoedelik Dinsdag in Stellenbosch voortgaan waar die DA en verteenwoordigers van verskeie koshuise gaan getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.