Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gr. 1-druipelinge dalk 100 000 landwyd

Om gr. 1 te druip is nié die slegste ding wat met ’n kind kan gebeur nie.

Dis beter om ’n kind vroeër terug te hou as later, sê Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Volgens Marnelda de Beer, grondslagfase-spesialis van die Skole-ondersteuningsentrum (SOS), kan so ’n jong kind dit emosioneel beter verwerk.

“Sy portuurgroep is ook op ’n ontwikkelingsvlak waar hulle nie diskrimineer teen leerlinge wat teruggehou word nie. Hulle sien dit nie eens raak nie.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het verlede naweek gesê hy is geskok dat 21 704 leerlinge in die provinsie vanjaar gr. 1 moet herhaal.

Hy het streng optrede belowe teen skole wat nie op standaard is nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale departement van basiese onderwys, het aan Hanlie Retief gesê oor die land heen kan daar tot 100 000 leerlinge in gr. 1 wees wat druip. Volgens hom druip hulle weens ’n gebrek aan ondersteuning en oorvol klasse.

‘Dis nie onderwys nie, dis massabeheer’

’n Gr. 1-onderwyser het aan Rapport gesê: “Ek het 35 kinders in my klas en my kollega 33 – dit is nie onderwys nie, dis massabeheer. Ek weet van mense met 68 kinders in hul klas.” Die ideale klasgrootte is volgens hulle 24.

Melanie Buys, onderwysspesialis van die SOS, sê klasse is dikwels te groot om voldoende aandag te gee – veral aan leerlinge wat sukkel en skole kry selde genoeg geld by die departement om remediërende personeel te kan bekostig.

Te vroeg skool toe

Vyfjarige kinders word in gr. 1 aanvaar, mits hulle voor Junie verjaar.

Buys sê ouers vir wie ’n dagsorgsentrum of kleuterskool te duur is, skryf hul vyfjarige kinders dikwels vir gr. 1 in omdat hulle dan nie skoolgeld hoef te betaal nie. Dié kinders is nie noodwendig skoolgereed nie.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, sê hulle raai ouers af om vyfjariges vir gr. 1 in te skryf.

Die onderwysers sê daar is ’n rede hoekom kinders sewe jaar oud moet wees in gr. 1. “Hulle kom in met lae spiertonus en hulle begin sit-lê en oor hul lessenaars hang. Hulle lyfies raak seer en dit maak hulle moeg.”

Marésa Viljoen, ’n adviseur by professionele dienste van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê wanneer kinders begin afgly van hul stoeltjies en hul voete om die stoel begin haak, kan dit dui op balans wat nooit behoorlik ontwikkel het nie.

Kinders moet 20 minute lank kan sit en luister, maar veral die jonges kan dit nie doen nie, sê die onderwysers.

Henriëtte Joubert-Pienaar, ’n opvoedkundige sielkundige, meen vyf is te jonk, al het sekere areas by die kind al baie hoog ontwikkel. “Uit ervaring in my praktyk is daar altyd een (of meer) area wat nog nie optimale ontwikkelingsvlak bereik het nie. En dit kan weer later uitdagings veroorsaak.”

Die onderwysers sê spring, klouter, skop, knip, plak, touspring, teksture, middellynkruisings ensovoorts is alles belangrik en moet in gr. R gebeur.

“Sommige kinders sien gr. 1 die eerste keer verf, en ons het ’n gegoede skool. Ons kry kinders wat ’n potlood verkeerd vashou en nie ’n idee het wat die regte manier is nie.”

Ouers hét ’n rol

Volgens sommige onderwysers reken baie ouers hulle kan hul kinders net by die skool kom aflaai, en dan hou hul eie verantwoordelikhede op.

Pieter Rousseau, assesseringspesialis by die SOS, sê leer moet hoofsaaklik in die ouerhuis plaasvind.

“As taal ’n probleem is, is dit omdat huistaal ’n probleem is. Hoeveel praat en lees en speel jy met jou kind? As wiskunde ’n probleem is, is dit ’n probleem in die ouerhuis: Het julle ’n horlosie in die huis? Maak julle kos? Gaan julle winkels toe? Ry julle plekke heen? Deel julle lekkers? Dan is daar mos geleenthede om te tel, op te tel, af te trek, eenvoudige vermenigvuldiging te doen en selfs deling?”

Hy sê mense moet ophou om net van die staat te verwag om oplossings te bied.

“Deur net met jou eie kinders interaksies te hê en die verantwoordelikheid vir sy/haar leer te aanvaar en ophou uitkontrakteer op so ’n jong ouderdom, sal die las op oorlaaide onderwysers, en staatverwagtinge (wat maar laag is) móét verbeter!”

Fynskrif vir klein handjies

Die onderwysers sê die verpligte departementele werkboeke maak dit vir hulle én die gr. 1’s baie moeilik. Daar is te veel konsepte per blad en hopeloos te min plek om te skryf. Die leerlinge, wat eintlik nog moet leer skryf, sukkel om so klein te skryf.

Viljoen sê die kinders moet eintlik nog in die eerste kwartaal met vetkryt skryf, maar weens die min plek moet hulle dan dadelik met potlode begin skryf.

* Lees ook die onderhoud met Elijah Mhlanga in Weekliks.

Meer oor:  Bronagh Hammond  |  Panyaza Lesufi  |  Jaco Deacon  |  Fedsas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.