Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gr. 11-leerling skryf liedjie oor alles wat sy mis

’n Oos-Kaapse plaasmeisie in ’n Vrystaatse skool wens sy kon sommer op haar motorfiets klim en skool toe ry.

En soos wat talle mense na die lewe voor die Covid-19-pandemie hunker, is daar ook soveel dinge waarna Magé Troskie, ’n gr. 11-leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, verlang.

Magé het op hul plaas in die Somerset-Oos-omgewing ’n liedjie geskryf oor alles wat sy in hierdie tyd van inperking mis.

“Ek mis die pyn in my maag van heeltemal te veel saam met my pêlle lag. En ek mis my kamermaat se bonsaiboom en Le Quack se muffins met biltong en room,” lui haar gunsteling-lirieke uit “Ek mis”.

Magé Troskie sing die lied oor alles wat sy te midde van die pandemie mis. Foto: Skermgreep

In die video waarop sy die liedjie sing, speel sy ukulele teen die agtergrond van sontonele, berge, ’n plaaspad en die oop veld. Beeldmateriaal van tye wat sy mis, is ook by die video ingesluit.

Sy het aan Netwerk24 gesê sy mis mense die meeste, veral haar vriendinne, en alles wat sy as vanselfsprekend aanvaar het.

Sy mis selfs die klein dingetjies wat haar sou irriteer.

Magé skryf graag liedjies en het ’n hele paar in dié tyd losgetokkel.

“Ek wil hê dit moet mense raak. Dit moet met almal kan praat – êrens moet ’n liedjie iets vir iemand kan sê.”

Sy skryf gewoonlik ligte, grapperige liedjies, maar het ook ’n diep kant.

Magé Troskie, gr. 11-leerling aan die Hoër Meisieskool in Oranje, Bloemfontein, in “Ek mis” se video. Sy speel ukulele teen ’n pragtoneel op hul plaas in die Somerset-Oos-omgewing, Oos-Kaap. Foto: Skermgreep

Magé het in gr. 9 begin liedjies skryf toe sy haar kitaar saam koshuis toe geneem het, al kon sy nog nie goed speel nie.

“Maar toe ek eers begin speel, het die woorde sommer net so saam met die snare gekom.”

Sy is ook baie lief vir die verhoog en drama, al neem sy dit nie as vak nie.

Dit was altyd haar droom om aan Oranje skool te gaan omdat haar ouma Lettie van Der Walt daar op skool was.

Sy is egter ook dankbaar is vir familietyd en die tyd om liedjies te skryf.

Ja, dit is lekker met uncapped Wi-Fi en sagte braaivleis by die huis, maar sy mis onder meer Domino’s se dikbasis meaty supreme-pizza, haar registerklas, die krampe in haar skouers van die swaar skooltas, en om netbal te speel en heelaand op die Grey-bal te dans. Dít is nog van die dinge wat sy in “Ek mis” uitwys.

“Ek mis die koshuis met sy Woensdag-poeding en sy taai varkvleis. En ek mis hande vashou as ons bid en vir ure lank in die lapa sit,” lui ander lirieke hieruit.

Sy sê mense geniet “Ek mis” baie en sommige sê sy moet nooit ophou skryf nie.

Magé Troskie in die video vir “Ek mis”, met die oop veld, berge en son op die agtergrond. Foto: Skermgreep

Sy mis dit wel om verplig te word om te leer, sê sy aan Netwerk24.

“Ek kom nie baie by die huis nie, so as ek by die huis is, wil ek nie regtig skoolwerk saambring nie. Ek dissiplineer maar myself en maak ’n roostertjie.

“Dis onmoontlik om presies met alles by te hou, maar ek is rustig.”

Op die plaas ry sy graag motorfiets en werk met haar hande. Sy het onder meer ’n boomhuis gebou en ’n kano herstel, sê sy.

Magé het drie ouer broers en ’n suster, Tanél, wat in gr. 9 saam met haar in die skool is.

Haar pa, Natie, is ’n veeboer en haar ma, Dafré, is ’n apteker op die dorp.

Sy sê al is dit moeilik om te glo, moet ons vertrou dit wat kom, is beter as dit wat reeds verby is.

Meer oor:  Hoër Meisieskool Oranje  |  Skryf  |  Liedjie  |  Leerling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.