Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gr. 4’s se leuens kos juffrou haar werk

Haar onderwysloopbaan is verwoes deur gr. 4’s wat valslik beweer het sy het kinders geknyp, met ’n plank geslaan, gewurg en met ’n stok in die gesig geslaan, sê Carin Pinkham (50), ’n onderwyseres wat vroeër weens dié klagtes afgedank is.

Carin Pinkham (50). Sy sê sy het nóóit enigiemand aan die nek gegryp, teen die vloer gegooi of gewurg, soos wat beweer is nie. foto: Facebook

Nou het die Education Labour Relations Council (ELRC) haar gelyk gegee en die Gautengse departement van onderwys (GDO) beveel om haar ses maande se salaris te gee. Die kinders het gebeure versin “omdat hulle nie daarvan gehou het om gedissiplineer te word nie”, het die ELRC bevind.

Pinkham moet R150 390 ontvang, maar vir haar is dit skrale troos.

Onderwys was haar passie, maar sy sal waarskynlik nooit weer voor ’n klas staan nie. Vir die GDO sal sy beslis nooit weer werk nie, sê sy.

Al wat haar aan die gang gehou het nadat sy haar werk verlede jaar verloor het, is die feit dat sy ook as verpleegsuster gekwalifiseer is. Sy het verlede jaar weer as suster begin werk. Waar sy egter as onderwyser vir ’n salaris van R25 000 gewerk het, is haar inkomste nou wisselvallig en sommige maande so min as R5 000.

“Ek is ’n enkelouer, dit was ’n baie woeste tyd in ons lewe dié . . .”

‘Sy het uit selfverdediging opgetree.’

Pinkham het ’n vlekkelose dissiplinêre geskiedenis gehad toe sy in 2017 by die Laerskool Kommando in Brakpan begin werk het as Engels-onderwyser. ’n Jaar later het haar probleme begin toe klagtes teen haar ingedien is dat sy haar gr. 4’s oor maande mishandel het.

Die klas waaruit die klagtes gekom het, was volgens alle aanduidings moeilik en baie van die leerlinge was besig om gr. 4 te herhaal.

Die bewerings was egter baie ernstig.

’n Kollega van Pinkham het in die ELRC-verhoor getuig sy het gesien hoe een van die klaers in die gange afgehardloop het met Pinkham agter hom aan met ’n stok in haar hand.

Die kind het gesê die juffrou het hom met die stok geslaan, maar Pinkham het gesê sy gebruik die stok net om die seun “bang te maak sodat hy luister”.

Die kollega het bygevoeg kinders van daardie ouderdom neem partykeer ander kinders se klagtes as hul eie aan.

Sy het gesê veral die seuns van daardie ouderdom daag dikwels gesag uit en die kind wat in die gang gehardloop het, was groot vir sy ouderdom. Pinkham is kort, ongeveer 1,56 cm, en dié spesifieke kind was glo langer as sy.

Vier kinders, wat deur middel van ’n tussenganger en tolk getuig het, het mekaar in hul getuienis weerspreek. Een het byvoorbeeld gesê die onderwyseres het die kamera in die klaskamer met ’n kombers bedek sodat die skoolhoof nie in sy kantoor kan sien wat daar aangaan nie. ’n Ander het gesê ’n laken is gebruik. Dieselfde kind het later gesê die kamera is met ’n handdoek of ’n T-hemp toegegooi.

Pinkham het dit ontken. Die kameras is só hoog dat dit bykans onmoontlik sou wees om dit by te kom en toe te gooi. Boonop sou die skoolhoof dadelik gesien het as dit bedek was. Sy het gevra vir beeldmateriaal van dié periode, maar dis nooit aan haar verskaf nie.

Een van die leerlinge het beweer sy het hom met ’n plank geslaan, teen die muur vasgedruk en gewurg. Pinkham het gesê die kinders was balhorig in die laaste periode van die dag en een van die tafels het gebreek. Sy sê sy het ’n stuk van die hout opgetel en op die tafel laat val. Die stuk hout het opgespring en ’n kind per ongeluk op die arm getref. Die seun wat ten aanskoue van die kollega in die gang afgehardloop het, het toe opgespring en wou dreigend en aggressief weet waarom sy dit gedoen het.

Pinkham het gesê sy is van ’n konserwatiewe agtergrond en het hom aangespreek omdat hy só met haar praat. In die proses het sy hom teen die muur gedruk.

“Om te sê ek het nog nooit ’n kind aan sy skouers gevat en gesê ‘jy praat nie so met my nie’ . . . Ek dink alle volwassenes het al.”

Oor of sy hom gewurg het, sê Pinkham: “As jy ’n kind afkeer met jou arm dan beskou die kind dit as wurg.”

Sy sê sy het nóóit enigiemand aan die nek gegryp, teen die vloer gegooi of gewurg, soos beweer is nie. Sy is uiteindelik in Februarie 2020 ná die dissiplinêre ondersoek afgedank.

Die saak is op appèl geneem na die ELRC. Dié liggaam het bevind hoewel die bewerings buite konteks ernstig klink, het die getuies mekaar weerspreek en hoorsê-getuienis gelewer.

“Die onderwyseres is ernstig uitgedaag in die hantering van ’n oproerige en ontwrigtende klas en is gedwing om sterk optrede te gebruik om gevegte op te breek en die klas te beheer,” het die ELRC bevind.

“Kinders in gr. 4 is in staat om gebeure te versin, iemand anders se storie aan te neem en om aspris (dinge te sê) net om ’n onderwyser se reputasie skade aan te doen omdat hulle nie daarvan hou om gedissiplineer te word nie,” lui die bevinding.

Die ELRC het ook bevind Pinkham het waarskynlik uit selfverdediging opgetree toe sy die seun teen die muur gedruk het.

Steve Mabona, woordvoerder van die GDO, het gesê die GDO aanvaar die uitspraak en is nie van plan om te appelleer nie.

Meer oor:  Carin Pinkham  |  Afdanking  |  Onderwyseres
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.