Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Gr. 7, gr. 12 eers terug op 8 Junie; maar WKOD maak deure oop

Gr. 7- en gr. 12-leerlinge gaan nié Maandagoggend terug skool toe nie, maar eers volgende Maandag.

Dit is luidens ’n verklaring wat deur die departement van basiese onderwys uitgereik is toe ouers gewag het op ’n mediakonferensie van Angie Motshe­kga, minister van basiese onderwys.

Die mediakonferensie is op die nippertjie tot Maandag uitgestel.

Wes-Kaapse skole gaan egter voort om Maandag leerlinge te ontvang.

Die provinsie se onderwysdepartement “gaan hom nie steur aan die u-draai wat Mo­tshekga laataand gemaak het nie”, het Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, in ’n verklaring gesê.

Luidens die verklaring van die departement van basiese onderwys het die raad van onderwysministers en -LUR’e (CEM) “ingeligte besluite” geneem om voort te gaan om skole Maandag oop te maak vir personeellede.

Skoolbestuurspanne, onderwys- en nie-onderwyspersoneellede sal Maandag terugkeer om die skole voor te berei op die koms van die leerlinge volgende week.

“Op 8 Junie moet alle (gr. 7- en gr. 12-) leerlinge by hul skole aanmeld,” lui die verklaring.

Luidens die verklaring het die raad die naweek vergader om die gereedheid van skole om vandag te heropen, te assesseer.

Hulle het ’n verslag ontvang van ’n konsortium van die diensverskaffers wat die eksterne evaluering en monitering doen van die skole se gereedheid om te heropen.

Rand Water, wat as agent optree om water by 3 500 skole te kry, het ook ’n verslag ingedien.

Ook die komitee van hoofde van onderwysdepartemente (Hedcom) het ’n tegniese verslag ingedien. Al drie verslae kom daarop neer dat ’n noemenswaardige getal skole nie vandag gereed sal wees nie, “hoewel geweldige vordering deur die meeste provinsies gemaak is, wat oorhoofs aandui dat daar ’n 80% gereedheidsvlak is”.

Die CEM is bekommerd dat daar in sommige provinsies nog nie persoonlike beskermende toerusting in besonder vir leerlinge afgelewer is nie en dat sommige skole nog nie gereed gemaak is vir die aankoms van onderwysers en leerlinge nie.

“Die CEM het toe besluite geneem wat sedertdien met onderwysvakbonde, skoolbeheerrade, onafhanklike skole-verenigings, die Menseregtekommissie, die Vereniging van Skoolhoofde, die Suid-Afrikaanse Nasionale Vereniging van Gespesialiseerde Onderwys en ander belanghebbendes gedeel is.”

Die raad sê vergaderings is Saterdag en Sondag met belanghebbendes gehou waartydens hulle die verslae bespreek en ’n plan van optrede voorgestel het.

Die CEM sê provinsiale en distriksbeamptes moet verseker dat maatreëls vir gesondheid, veiligheid en sosiale afstandhouding streng nagekom word wanneer leerlinge opdaag.

“Hierdie hele week moet vir behoorlike oriëntasie en opleiding van onderwysers gebruik word, skole moet skoongemaak word, verskaffingskettingkwessies moet opgelos word en die finale aanpassings moet gedoen word aan die gereedheid van elke fasiliteit vir die aankoms van leerlinge.

Koshuise

“Ons het egter verslae ontvang wat aandui dat sekere leerlinge reeds by koshuise opgedaag het.

“Ons moedig dié skole aan om voort te gaan met die oriëntering van die leerlinge ...”

Volgens die verslag het die departement van basiese onderwys Saterdag met die Vereniging van Onafhanklike Skole vergader en is daar ooreengekom oor hoe hul skole sal voortgaan met opening.

In die verklaring word egter nie besonderhede gegee nie.

Solidariteit het Sondagaand gesê dié beweging sal ouers, kinders, onderwysers en skole in ’n regsaksie ondersteun indien skole wat voldoen aan alle gesondheidsvereistes, nie toegelaat word om oop te maak nie.

Volgens Solidariteit sal dit onregmatig wees om nou te besluit dat skole wat gereed is en voldoen aan die direktief, nie kan oopmaak nie.

“Die minister skep op die oomblik ongelooflike onsekerheid tot nadeel van kinders se onderwys,” het dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, in ’n verklaring gesê.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Skole Heropen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.