Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
'Gr. 9-sertifikaat nié daar om skoolverlaters aan te moedig'

Die nasionale onderwysdepartement is bekommerd oor berigte dat die algemene onderwyssertifikaat (GEC) bloot beskou sal word as ’n kans om skool te verlaat.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Joshua Sebola

Die GEC sal na verwagting van 2020 toegeken word aan leerlinge wat die skoolstelsel aan die einde van hul gr. 9-jaar verlaat.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdag op die onderwysersvakbond Sadou se nasionale kongres weer eens gepraat oor dié sertifikaat.

Volgens Mothsekga sal die toets vir inwerkingstelling van dié sertifikaat in Julie 2020 voltooi wees.

Sy sê ’n raamwerk vir die GEC is ontwikkel en evaluasietegnieke daarvoor word ondersoek.

“Die plan beoog om meer leerlinge te lei na tegniese onderrig. Die doelwit is om 10 000 ambagslui per jaar op te lei,” lui ’n verklaring Vrydag deur die onderwysdepartement.

Die departement meen die GEC sal ook die probleem aanspreek dat honderdduisende leerlinge jaarliks die onderwysstelsel verlaat sonder enige nasionale kwalifikasie.

Die doel van die GEC is om ’n tasbare bewys te lewer dat leerlinge ’n sekere stel vaardighede opgedoen het oor die laaste tien jaar van hul onderwys. Leerlinge kan dan besluit of hulle verdere opleiding wil ondergaan, byvoorbeeld by beroepsgerigte opleidingskolleges (TVET-kolleges).

“Die GEC is vir die eerste keer in die eerste onderwyswitskrif van 1995 bespreek. Dit sal nou toegepas word omdat die onderwysdepartement gereed is om só ’n kwalifikasie toe te ken nadat die leerling die algemene onderwysfase suksesvol voltooi het,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, vroeër vanjaar aan Netwerk24 gesê.

Die algemene onderwysfase strek van gr. R tot gr. 9.

Prof. Elda de Waal, ’n navorser in die veld van openbare skole aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die idee is nie dat gr. 9 beskou moet word as ’n uittreevlak uit die skool nie.

“Nie alle kinders het matriek nodig nie, maar indien leerlinge in gr. 9 die skool verlaat, moet die arbeidsmark gereed wees om hulle te huisves.”

Andersins is dit belangrik dat leerlinge verdere opleiding ondergaan, sê sy.

Die leerling moet indiensneembaar wees aan die einde van sy skoolloopbaan, of dit nou in gr. 9 of gr. 12 is.

“ ’n Leerling moet dan op ’n vlak van sy belangstellings verder opleiding ondergaan en sertifikate of diplomas kry. Saam met die GEC kan ’n mens dan dié diplomas as bewys gebruik dat die leerling verder opgelei is in ’n spesifieke rigting.”

De Waal sê gr. 9 moet beslis nie as ’n kind se einddoel gesien word nie, maar eerder as ’n geleentheid om verder te leer.

Dr. Danie Brink, hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê skoolonderrig moet verseker dat ’n leerling ’n sekere stel vaardighede opdoen.

“Die leerling moet indiensneembaar wees aan die einde van sy skoolloopbaan, of dit nou in gr. 9 of gr. 12 is.”

Hy stem saam dat leerlinge ná gr. 9 verdere opleiding moet kry.

“Sommige leerlinge is nie akademies aangelê nie en bereik dalk hul volle akademiese potensiaal teen gr. 9. Hulle kan dan verdere opleiding op ander vlakke ontvang. Nie alle leerlinge hoef breinchirurge te word nie.”

Brink sê ook planne moet gereed wees om te verseker dat gr. 9 by alle skole op dieselfde standaard is.

Hendrick Makaneta, ’n onderwysaktivis, het hom sterk uitgespreek teen die GEC. “Om leerlinge toe te laat om die stelsel in gr. 9 te verlaat sal die gehalte van onderwys drasties laat afneem. Ons het alreeds ’n groot probleem met werkloosheid onder gegradueerdes, waarheen verwag ons van ’n gr. 9-leerling om te gaan?”

Hy sê dié planne sal probleme vir die samelewing veroorsaak omdat “talle lui leerlinge sal besluit om hul skoolloopbaan in gr. 9 te beëindig”.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Onderwys  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.