Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gaan ’n hoërskool in Graafwater in ’n vaardigheidskool omskep wat ook leerlinge met ernstige intellektuele gestremdhede kan huisves.
Die nuwe skool sal leerlinge van 2021 af kan huisves.
Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê belanghebbendes het verlede jaar aanbeveel dat die Hoërskool Graafwater en die Lambertsbaai Primêre Skool gesluit en herbenut word as onderskeidelik ’n hoërskool in Lambertsbaai en ’n spesiale skool in Graafwater.
Die WKOD sê die meeste leerlinge aan die Hoërskool Graafwater kom van ander gebiede en nie van Graafwater self nie. Die departement vervoer daagliks 156 leerlinge van Lambertsbaai na Graafwater om die hoërskool by te woon. Ander leerlinge reis van Elandsbaai of Leipoldtville en omliggende plase.

Die Weskus-skole in 2020
Schäfer sê dit is ooglopend dat ’n hoërskool in Lambertsbaai voordelig sal wees vir die gemeenskap aangesien die meeste leerlinge aan die Hoërskool Graafwater van Lambertsbaai af kom.
“Aangesien die Laerskool Graafwater onlangs opgeknap is en nou alle leerlinge van gr. R tot gr. 7 kan akkommodeer, word daar aanbeveel dat die 228 gr. R- tot gr. 7-leerlinge wat tans by die Hoërskool Graafwater ingeskryf is, maklik by die Laerskool Graafwater gehuisves kan word,” sê Schäfer.
Die Hoërskool Graafwater is tans ’n laer- en hoërskool.
Leerlinge aan die Laerskool Lambertsbaai, wat nou in ’n hoërskool omskep gaan word, word na die P.W. de Bruin Primêre Skool in Lambertsbaai geskuif.
Schäfer sê die WKOD het tans 71 spesiale skole
dwarsoor die provinsie.
“Net drie van hierdie spesiale skole is in die Weskus-onderwysdistrik geleë, waarvan die naaste skool 128 km ver is,” sê sy.
“Hierdie skole is vol en wys jaarliks leerlinge weg. Die WKOD sal in 2021 vir leerlinge die geleentheid bied om vakke te neem wat hulle met waardevolle vaardighede vir verdere indiensneming, soos sweiswerk, houtwerk en kantooradministrasie, sal toerus. Leerlinge met ernstige intellektuele gestremdhede sal ook geakkommodeer word.”