Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
GRAFIKA: Hier word onderwysers in Gauteng ingeënt

Onderwyspersoneel wat binne die volgende twee weke teen Covid-19 ingeënt gaan word, is “ambassadeurs vir die entstof”.

Prof. Elizabeth Mayne, hoof van die immunologie-afdeling van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), sê daar is groot huiwering by die publiek om ingeënt te word.

“Dit is gemeenskapsleiers soos dié (in die onderwyssektor) se werk om mense aan te spoor om die inenting te kry. Die inentings is ál wat ons het om die virus te keer,” sê Mayne.

Onderwyspersoneel word van Woensdag met die Johnson & Johnson-entstof ingeënt. Dit sluit administratiewe personeel en skoonmakers in, asook werkers wat leerlinge vervoer en diegene wat by skole se voedingskemas betrokke is. Amptenare in departementele kantore en vakbonde se personeel is ook by die program ingesluit.

Die inentings is al wat ons het om die virus te keer.
Prof. Elizabeth Mayne

Suid-Afrika se inentingsproses het tot dusver onder skerp kritiek deurgeloop, maar dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê sy gee die regering die voordeel van die twyfel. Volgens haar hang die sukses van die inentingsprogram van die logistieke bestuur af.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële komitee oor Covid-19-entstowwe, sê hy het volle vertroue in die samewerking tussen die departement van gesondheid en die departement van onderwys.

“Ek hoop en glo dat dit sonder enige probleme sal verloop.”

Onderwysers het reeds van Dinsdag begin hoor waar en wanneer hulle ingeënt gaan word. Elke provinsie se gesondheidsdepartement en onderwysdepartement behartig die reëlings vir die inentings. Die departemente moet met skoolhoofde skakel oor wanneer en by watter inentingstasie ’n betrokke skool moet wees.

Werknemers in die onderwyssektor se data is reeds op die datastelsel vir inentings (EVDS) gelaai. Geen registrasies mag by inentingsplekke gedoen word nie. Personeel moet ’n bewys van identifikasie en besonderhede van ’n mediese fonds se lidmaatskap (indien toepaslik) kan wys. Diegene sonder ’n mediese fonds sal ook ingeënt word.

Gauteng het Dinsdag ’n lys van al die inentingsplekke in die provinsie bekend gemaak. Die provinsie mik daarna om sowat 125 934 werknemers by 46 inentingsplekke in te ent.

inentings, onderwysers, gauteng

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, is Woensdag by die Rabasotho-gemeenskapsaal in Tembisa aan die Oos-Rand ingeënt. Verskeie amptenare van die departement, sowel as vakbondverteenwoordigers, sal ook dan ingeënt word.

Volgens Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), is die terugvoering vanuit die provinsies oor die algemeen positief.

“Die reëlings blyk in plek te wees. Kom ons hoop en vertrou dit hou so aan. Goed begin, is half gewin,” sê hy.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Chris Klopper  |  Prof. Barry Schoub  |  Suid-Afrika  |  Onderwysers  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Pandemie  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.