Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Grey-beheerraad wil na appèlhof oor skool se geldsake

Die beheerliggaam van Grey-kollege in Bloemfontein wil hom nou tot die appèlhof in dié stad wend om weer beheer oor die skool se geldsake te verkry.

’n Aansoek om verlof tot appèl teen ’n uitspraak verlede maand van waarnemende regter Henriëtte Murray, waarmee regter Sharon Chesiwe saamgestem het, is by die Vrystaatse hooggeregshof ingedien.

Luidens dié uitspraak was die Vrystaatse onderwyshoof wel geregtig om in April vanjaar op ’n dringende grondslag in te gryp en die beheerliggaam se beheer oor die skool se geldsake en verwante sake van hom af weg te neem.

Dié besluit van die onderwyshoof volg op ’n klag van die hoërskool se hoof, Deon Scheepers, dat die beheerliggaam R1,5 miljoen van die skool se geld onregmatig vir regskoste gebruik het.

Die besluit om te dagvaar of regsaksies teen te staan, is deel van die uitoefening van sy bestuurspligte.

In sy aansoek om appèl teen die onderwyshoof en die LUR vir onderwys beroep die beheerliggaam hom op ’n uitspraak wat vroeër vandeesmaand in die konstitusionele hof gelewer is in die saak van Moodley vs. Kenmont School en andere.

Luidens dié uitspraak is ’n skool se beheerliggaam geregtig om in regsaksies betrokke te raak en om skoolgeld vir die regskoste te gebruik.

“Die besluit om te dagvaar of regsaksies teen te staan, is deel van die uitoefening van sy bestuurspligte,” lui die uitspraak.

Die Grey-beheerliggaam sê in die lig van dié uitspraak het die hooggeregshof fouteer deur te bevind dat skoolgeld net in sake van ’n opvoedkundige aard vir regskoste gebruik mag word.

Die beheerliggaam sê hy was dus geregtig om die geld vir regskoste te gebruik en daar was dus geen grondslag in die reg vir die onderwyshoof om hom van sy besluitnemingspligte oor die skool se geldsake te stroop nie.

Daar was in elk geval geen planne om verdere regskoste aan te gaan nie en die onderwysdepartement het geweet dat die Federasie van Skoolbeheerliggame (Fedsas) vir die verdere regsaksie sou betaal.

Die hooggeregshof moes dus bevind het daar was geen rede vir die onderwyshoof om in dié omstandighede die besluitnemingspligte oor die geldsake van die skool van die beheerliggaam weg te neem nie, veral nie op ’n dringende grondslag nie.

Die beheerliggaam noem nog verskeie ander punte waarin hy meen die twee regters in hul bevinding fouteer het.

Die onderwyshoof en die LUR het reeds kennis gegee hulle gaan die aansoek van die beheerliggaam teenstaan.

Marius van Rensburg van Horn en Van Rensburg-prokureurs is die beheerliggaam se prokureur.

* Die R1,5 miljoen van die skool se geld is gebruik om ’n aansoek van Scheepers teen die beheerliggaam in die hooggeregshof teen te staan.

* Scheepers se aansoek het geslaag en die beheerliggaam het na die appèlhof geappelleer. Die appèl sal waarskynlik eers volgende jaar aangehoor word.

Meer oor:  Appèlhof  |  Grey-Beheerraad  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.