Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Grey-hoof bevorder glo nie 'ware Grey-tradisie'

Hoewel die hoof van Grey-kollege Sekondêr in Bloemfontein in sy departementele pos as skoolhoof aanbly waar hy verantwoordelik is vir die akademiese sy van die skool, het die skoolbeheerraad hom van al sy ander verpligtinge onthef.

Daar is al lank onenigheid tussen die hoof, Deon Scheepers, en die beheerraad. Daar is glo kommer veral omdat die "ware Grey-tradisie" (The Grey Way soos die Grey-gemeenskap daarna verwys) nie na wens uitgeleef en onder die seuns voortgesit word nie.

Deon Scheepers. Foto: Mlungisi Louw

Niemand wou op die rekord bevestig wat die kern van die onmin is nie, maar dit is bekend dat die beheerraad die afgelope jare ontevrede was met Scheepers se bestuurstyl, sy aanslag en beheer van dissipline.

Scheepers, wat onder meer ‘n MBA-graad het, se sake-aanslag het nie almal gepas nie.

Onenigheid het aanvanklik in die beheerraad hieroor bestaan. 

Verlede jaar het van die onderwysers ‘n versoekskrif aan die Vrystaatse onderwysdepartement oor hul ontevredenheid met Scheepers gerig. Die departement het gesprekke met alle partye gevoer, maar nooit uitsluitsel bereik nie. Geen party wou dit destyds bevestig nie.

Die beheerraad het Woensdagoggend aangekondig dat Deon Scheepers weens ’n “vertrouensbreuk” van sy beheerraadspligte as hoof onthef word.

Scheepers het by navraag hieroor volstaan met: “Wanneer dit oor die opvoeding van leerlinge gaan, het die skoolhoof ’n kardinale rol om te speel.”

Volgens die beheerraad het hy vertroue in Scheepers verloor en die ingrypende stap gedoen in die beste belang van die skool, leerlinge en onderwysers.

Gerugte oor dié drastiese stap doen die afgelope tyd die ronde. Die personeel en leerlinge is Woensdagoggend vroeg in die saal amptelik hiervan verwittig en ’n omsendbrief van die beheerraad is reeds aan ouers gestuur.

Die saak is glo Dinsdag op ’n vergadering van die beheerraad gefinaliseer.

Henry Büchner, voorsitter van die beheerraad, het in ’n verklaring namens die beheerraad aan Netwerk24 die ingryping weens ’n gebrek aan vertroue in die skoolhoof bevestig. Scheepers sit as departementele amptenaar wel sy skoolhoofpligte voort wat ingevolge die Skolewet aan hom toegewys is.

Henry Büchner

Na wat verneem word beskou Scheepers die stroping van sy pligte as onbillik en onregmatig. By navraag het Scheepers gesê hy win regsadvies in en kan nie verder kommentaar lewer nie.

Jurie Geldenhuys, hoof van Grey-kollege Primêr, is deur die skoolbeheerraad as tydelike oorhoofse skoolbestuurder aangestel.

Luidens die beheerraad se verklaring het die vertrouensverhouding tussen dié beheerraad en Scheepers onherstelbaar verbrokkel en het alle pogings om die geskille tussen die partye te besleg, op ’n dooiepunt uitgeloop.

“Daarom het die beheerliggaam besluit om alle gedelegeerde beheerliggaam-bevoegdhede van mnr. Scheepers terug te trek,” lui die verklaring.

Büchner sê by ’n openbare skool, soos Grey-kollege, is die skoolhoof ’n werknemer van die provinsiale onderwysdepartement.

Jurie Geldenhuys

“Die Suid-Afrikaanse Skolewet bepaal dat ’n skoolhoof verantwoordelik is vir leer en onderrigaktiwiteite by ’n skool. Die skoolhoof se plig as werknemer van die onderwysdepartement is dus die ‘bestuur’ van akademiese aktiwiteite by die skool.

“Alle ander funksies, regte, verpligtinge en bevoegdhede wat ’n skoolhoof uitoefen, word aan hom gedelegeer deur die beheerliggaam en hy moet daaroor aan die beheerliggaam verslag doen.”

Büchner sê hoewel die Skolewet die plig van onderrig-bestuur op die skoolhoof plaas, moet die hoof ook in dié verband aan die beheerliggaam verslag doen.

“Die beheerliggaam se primêre doel is om ’n omgewing te skep waar gehalteonderrig kan plaasvind, maar waar die beheerliggaam vertroue in die skoolhoof verloor het, is dit nie meer moontlik nie.

“Dié ingrypende stap is dus gedoen omdat die beheerliggaam te alle tye die skool, veral die leerlinge en die onderwysers, se beste belange eerste stel.”

Die beheerraad het besluit om Geldenhuys as tydelike skoolbestuurder aan te stel om die raad se gedelegeerde funksies uit te voer totdat ’n langtermynoplossing ingestel kan word.

Geldenhuys sal alle skoolaktiwiteite, met die uitsondering van onderrig en leer, namens die beheerraad bestuur.

“Mnr. Scheepers, as werknemer van die Vrystaatse onderwysdepartement, sal voortgaan met sy professionele plig as skoolhoof, beperk tot slegs dié bevoegdhede wat aan hom toegewys is in terme van die Skolewet.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.