Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Grey-kollege: Geen geld kan betaal, ontvang word

Die besluit van die onderwyshoof van die Vrystaat om die beheerliggaam van Grey-kollege in Bloemfontein van sy “finansiële en verwante pligte” te onthef is ter kwader trou geneem, sê Henry Büchner, voorsitter van die beheerliggaam, in hofstukke in die hooggeregshof in die stad.

Dié besluit verlam die daaglikse bedryf van die hoër- en die laerskool omdat geen betalings gemaak of ontvang kan word nie, blyk uit die hofstukke.

Henry Büchner

Die beheerliggaam vra die hof om dié besluit van die onderwyshoof te hersien en tersyde te stel.

Büchner sê die onderwyshoof moes die beheerliggaam kans gegee het om op die bewerings teen hom te reageer, voordat hy net op die woord van die hoof van die hoërskool, Deon Scheepers, staatgemaak het om sy besluit te neem.

Dit is algemene kennis dat Scheepers in ’n “hardnekkige” hofstryd met die beheerliggaam gewikkel is, sê hy.

Siende dat die onderwyshoof oënskynlik vir sy besluit uitsluitlik op Scheepers se verslag van 20 Maart staatmaak, was daar duidelik geen dringendheid betrokke nie.

Büchner ontken Scheepers se bewering dat die geldsake van die skool wanbestuur is, ten sterkste.

Hy sê die klagte wat Scheepers oor regskoste (R1,5 miljoen) by die onderwyshoof ingedien het, spruit eerder uit die hofsaak wat Scheepers teen die beheerliggaam gemaak het nadat die beheerliggaam hom weens beweerde wanbestuur van sekere van sy pligte onthef het.

Büchner sê deur die beheerraad se finansiële pligte weg te neem, lyk dit asof die onderwyshoof Scheepers se belange, eerder as dié van die skool, bevorder.

Nico Maritz, algemene bestuurder van die skool, wat nou duidelik tussen die duiwel en die diep blou see is, sê hy is nou baie onseker oor sy posisie.

Die opdrag wat hy per e-pos van Scheepers gekry het dat ’n amptenaar aan hom (Scheepers) oor die telefoon gesê het dat die uitbetalings vir begrote uitgawes moet voortgaan, kan hy nie as ’n opdrag van die onderwyshoof aanvaar nie.

Sy werkgewer, die beheerliggaam, het aan hom gesê dat dit “onverantwoordelik” van hom sal wees om sy finansiële pligte bloot op grond van ’n e-pos van die skoolhoof wat ’n telefoonoproep gekry het, uit te voer.

Die opheffing van die finansiële en verwante pligte kan ook die finansiële besluite en beleid raak en nietig verklaar.

Maritz sê die besluit kan ook beteken dat sý pligte oor die geldsake van die skool deur die besluit van die onderwyshoof by implikasie opgehef is.

Verder is hy onseker of enige amptenaar van die onderwysdepartement aan hom opdragte oor die geldsake mag gee omdat net sy werkgewer (die beheerliggaam) sulke opdragte mag gee.

Nou mag die beheerliggaam nie sulke opdragte gee nie, want sy magte om dit te doen is weggeneem.

Maritz sê sedert die onderwyshoof se terugtrekking van die beheerliggaam se magte op 11 April vanjaar het hy geen betalings uit die skool se rekening gemaak of enige ontvangste van geld erken nie.

Hy het ook geen amptelike kennis van die onderwyshoof gekry oor wie in die tussentyd die “finansiële en verwante pligte” gaan verrig en op watter grondslag hy (Maritz) dié pligte moet verrig en in opdrag van wie nie.

Meer oor:  Grey-Kollege  |  Vrystaat  |  Bloemfontein  |  Beheerliggaam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.