Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Grey-mediasie misluk

Die mediasieproses tussen die skoolhoof van Grey-kollege (sekondêr) en lede van die beheerliggaam was onsuksesvol en het op ’n dooiepunt uitgeloop.

Só het Deon Scheepers, hoof van Grey-kollege, Saterdag op sy Facebook-blad gesê.

Scheepers is op 15 Mei van sy beheerraadspligte onthef en sy aanspreeklikheid is tot die akademie van die skool beperk.

Deon Scheepers. Foto: Mlungisi Louw

Jurie Geldenhuys, hoof van Grey-primêr, is deur die beheerliggaam as tydelike skoolbestuurder aangestel.

Hy is intussen deur die Vrystaatse onderwysdepartement beveel om enige betrokkenheid by die hoërskool te laat vaar en sy verantwoordelikhede as hoof by die laerskool te hervat.

Scheepers vra in sy inskrywing dat ’n neutrale voorsitter die mediasie-proses moet lei.

Hy bly steeds ontvanklik vir enige vorm van mediasie.

“Dit is egter belangrik dat ’n neutrale voorsitter die mediasieproses moet lei en dat vooraf oor die agendapunte ooreengekom moet word.”

Volgens die inskrywing was die mediasie op 30 Junie onsuksesvol. Die opvolgmediasie wat vir Saterdag 7 Julie geskeduleer is, het nie plaasgevind nie omdat die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) nie die gesprekke bygewoon het nie.

Scheepers sê in die inskrywing die vertrekpunt vir die mediasieproses om te slaag is die herroeping van die besluit van 15 Mei deur die beheerliggaam om van sy regte en verpligtinge terug te trek.

Dit het onder meer behels die aanstel van ’n skoolbestuurder om verskeie skoolhoof-funksies, soos bepaal deur die onderwyswet, oor te neem. Die hantering van dissipline, die bestuur van sport en kultuur asook interne en eksterne kommunikasie is slegs enkele van die aspekte wat deur hierdie besluit geraak word.

Scheepers sê indien daar nie binnekort tot ’n vergelyk gekom word nie, sal die saak op 20 Augustus in die Vrystaatse hooggeregshof aangehoor word.

Hy het aansoek gedoen dat die hooggeregshof die besluite van die beheerraad tersyde stel en nietig verklaar.

Volgens hom is sy regskoste vir sy eie rekening.

Hy het ’n beroep op die skoolgemeenskap en belanghebbendes gedoen om nie te bespiegel of in gesprekke oor die kwessie betrokke te raak nie, maar om as die Grey-gemeenskap saam te staan in die beste belang van die skool.

Henry Buchner, voorsitter van die beheerliggaam, sê hulle sal Maandag reageer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.