Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Grey-raad verbied om oor geld te besluit

Die vet is weer in die vuur by die spogskool, Grey-kollege in Bloemfontein nadat die onderwyshoof in die Vrystaat die skool se beheerliggaam verbied het om enige verdere geldelike besluite oor die skool te neem.

Tsoarelo Malakoane

Die beheerliggaam het dadelik in ’n prokureursbrief met ’n dringende hofaansoek gedreig indien die onderwyshoof nie teen Maandagmiddag sy “irrasionele, en onregmatige” besluit laat vaar nie.

Dié skokbesluit van Tsoarelo Malakoane, die onderwyshoof, volg nadat die hoof van die hoërskool, Deon Scheepers, twee maande gelede ’n klag ingedien het oor beweerde wanadministrasie en -bestuur van skoolgelde. Dit klag het verband gehou met R1,5 miljoen se regskoste wat die beheerliggaam uit die skool se rekening betaal het.

Scheepers is as verantwoordbare amptenaar aan die onderwysdepartement glo ook nie daarin geken nie.

Die beheerliggaam het Malakoane tot Maandag om 15:30 tyd gegun om sy brief terug te trek waarin hy die beheerliggaam se magte opskort om besluite oor die skool se geldsake te neem.

Teen 16:00 het die beheerliggaam se prokureur, Marius van Rensburg, nog niks van Malakoane gehoor nie.

Malakoane het wel in sy brief verlede Donderdag ook aan die beheerliggaam die geleentheid gebied om aan hom ’n skriftelike voorlegging te doen oor waarom hy sy besluit moet omkeer of opskort.

Van Rensburg skryf in sy brief die opskorting maak nie sin nie. Niemand is ook aangewys om dié pligte oor te neem nie.

Daar is verskeie besluite en projekte by die skool en betalings wat in die nabye toekoms gedoen moet word.

Boonop is daar ook geen dringendheid waarom die opskorting só skielik moes geskied nie.

Ian Small-Smith

Hy skryf die beheerliggaam kon mos eers die geleentheid gekry het om te reageer, voordat daaroor besluit is.

Dié besluit laat die laerskool “tussen die duiwel en die diep blou see”. Hoewel die laerskool eintlik niks met die hele sage te doen het nie, word hy ook nou daardeur benadeel.

Nie Scheepers, of die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), wat die klagte namens hom ingedien het, wou kommentaar lewer nie.

* Intussen het dit ook nou aan die lig gekom dat Ian Small-Smith, ’n prominente lid van die beheerliggaam, al ’n ruk gelede sy bedanking ingedien het.

Dit was onder meer oor die regskoste wat net uit die hoërskool se rekening betaal is, en nie ook uit dié van die laerskool nie.

In sy bedankingsbrief het hy ook ’n byltjie te slyp met Jurie Geldenhuys, hoof van die laerskool.

Hy skryf oor Geldenhuys se “histerie” toe hy hoor dat hy (Small-Smith) probeer het om ’n skikking met Scheepers te bereik.

Hy moedig die beheerliggaam aan om Geldenhuys voor stok te kry oor sy “swak, aggressiewe gedrag”.

“Jul traagheid om sy swakhede goedsmoeds te aanvaar en Deon se swakhede met ’n beuel-geblaas die wêreld in te stuur, wys vir my dat die stertjie by Grey-kollege die hond swaai. En ek gaan dit beveg.”

Meer oor:  Grey-Kollege  |  Deon Scheepers  |  Bloemfontein  |  Beheerliggaam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.