Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Grey-sage: ‘ ’n Flaterkomedie wat nie snaaks is nie’

Die hele hofsage van Grey-kollege is ’n flaterkomedie. “Maar dit is nie snaaks nie,” het adv. Greta Engelbrecht Vrydag in die hooggeregshof in Bloemfontein namens die skool se beheerliggaam betoog.

Sy het ’n paar taai klappe in die rigting van Deon Scheepers, hoof van die hoërskool, uitgedeel en gesê hy is die een wat die eerste vuurhoutjie getrek het toe hy hof toe hardloop nadat die beheerliggaam hom van sekere pligte onthef het.

Dit is ook hy wat ’n klagte by die departement van onderwys ingedien het wat daartoe gelei het dat die provinsiale onderwyshoof in April 2019 die beheerliggaam van sy “finansiële en verwante pligte” onthef het.

Sy het voor regters Sharon Chesiwe en Henriëtte Murray betoog in ’n aansoek van die beheerliggaam om verlof tot appèl teen ’n bevinding van dié twee regters. Hulle het ’n aansoek van die beheerliggaam om dié pligte terug te kry, verwerp.

Die beheerliggaam wil hom nou tot die appèlhof wend.

Deon Scheepers, hoof van die hoërskool . . . is die een wat die eerste vuurhoutjie getrek het toe hy hof toe hardloop nadat die beheerliggaam hom van sekere pligte onthef het.

Uitspraak in die aansoek is Vrydag voorbehou.

Engelbrecht het aan die hof gesê die hoërskool het nou nog nie sy begroting van R78 miljoen goedgekeur gekry nie.

Die provinsiale onderwyshoof het ’n maand lank met Scheepers se klag gesit dat die beheerliggaam glo onregmatig R1,5 miljoen van die skoolgeld vir regskoste gebruik het. Ná ’n maand is dié klag toe so dringend dat die beheerliggaam nie eens die kans kry om sy kant te stel voordat sy magte oor finansiële besluitneming opgehef word nie, het Engelbrecht aangevoer.

Dit was toe reeds algemeen bekend dat Fedsas die verdere litigasie finansier. Daar was dus nie ’n kans dat nog skoolgeld daarvoor gebruik sou word nie.

Sy het betoog intussen is daar drie weke ná die twee regters se uitspraak ’n uitspraak in die konstitusionele hof gelewer dat ’n skool se beheerliggaam geregtig is om in regsoptrede betrokke te raak en om skoolgeld vir die regskoste te gebruik.

In die lig van dié uitspraak het die twee regters dus fouteer deur te bevind dat skoolgeld net in sake van ’n opvoedkundige aard vir regskoste gebruik mag word.

“Die fondasie van die uitspraak in die hooggeregshof het dus verkrummel.”

Die twee regters het egter nie die voordeel van die leiding van die konstitusionele hof se uitspraak gehad nie, het sy betoog.

Adv. William Mokhari SC het namens die onderwyshoof en sy LUR betoog die beheerliggaam het voortydig hof toe gehardloop. Dit was ’n tydelike besluit van die onderwyshoof om hulle van die finansiële pligte te stroop.

Daar was interne prosesse wat hulle kon gebruik het. Die beheerliggaam kon ’n voorlegging aan die onderwyshoof gedoen het en hul regte kon al herstel gewees het.

“Hulle is genooi om dit te doen, maar hulle het nie. Hulle het reguit hof toe gekom.”

Engelbrecht het in reaksie betoog dit was ’n onregmatige besluit van die onderwyshoof en die beheerliggaam wou nie aan dié onregmatigheid deelneem nie.

Engelbrecht, bygestaan deur adv. Jerry Merabe, het in opdrag van Marius van Rensburg van Horn en Van Rensburg-prokureurs vir die beheerliggaam opgetree.

Meer oor:  Grey Kollege  |  Beheerliggaam  |  Deon Scheepers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.