Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Grey: Voorsitter antwoord onderwyshoof in hof

Die onderwyshoof van die Vrystaat, adv. Tsoarelo Malakoane, tree kwaadwillig op, sê Henry Büchner, voorsitter van Grey-kollege se beheerliggaam.

Henry Büchner

Hy pak Malakoane in sy jongste verklaring wat by die Vrystaatse hooggeregshof ingedien is en sê hy oortree as onderwyshoof sy magte en is vasbeslote om onregmatig op te tree.

Malakoane het verlede week vir Büchner en al 12 sy gekose lede uit die beheerliggaam geskop.

’n Dringende aansoek daaroor is Maandag in die Vrystaatse hooggeregshof deur regter Philip Loubser tot later vandeesweek uitgestel.

In die aansoek word gevra dat Malakoane en sy LUR in hul persoonlike hoedanigheid vir die regskoste moet betaal.

Büchner sê dié besluit deur Malakoane kan as niks anders nie as onverantwoordelik, onredelik en wispelturig beskryf word. Daarom behoort die publiek nie vir die regskoste verantwoordelik gehou te word nie.

Büchner voer aan vier van die lede wat die deur gewys is, het nie eens in die beheerliggaam gedien in die tyd toe die meeste van die besluite geneem is waaroor Malakoane hulle nou verkwalik nie.

Hulle is Machini Motloung, Lindy Koupis, Ruan Coetzer en Jako Liebenberg.

Adv. Joubert Zietsman en Gerard Henning, wat nie vroeër soos die ander dreigbriewe van Malakoane gekry het waarop hulle kon antwoord nie, is ook uit die beheerliggaam gesit.

Adv. Koenie Pieterse, wie se termyn aan die einde van verlede jaar verstryk het omdat sy seun matriek voltooi het, is ook deur Malakoane uit die beheerliggaam geskop, waarin hy dus in elk geval nie meer dien nie.

Nadat hulle Vrydag die trekpas gekry het, het die 12 lede van die beheerliggaam die hof ook gevra om te verklaar dat Malakoane nie die regte prosesse gevolg het nie.

Tsoarelo Malakoane

Die hof moet ook beveel sy besluit mag nie in werking gestel word voor die afhandeling van ’n aansoek vir die hersiening en tersydestelling daarvan nie.

Verder vra hulle ook die hof moet Malakoane verbied om ingevolge die gedragskode enige verdere stappe teen hulle te doen voordat hulle nie self hul prosesse daarvolgens voltooi het nie.

Malakoane en sy LUR staan die aansoek en die wysigings aan die kennisgewing van mosie teen. Die dringende aansoek is uitgestel om hulle kans te gee om daarop te antwoord.

Adv. Jerry Merabe, in opdrag van Marius van Rensburg van Horn en Van Rensburg-prokureurs, tree vir die 12 aansoekers op. Adv. Stefan Grobler SC, bygestaan deur adv. Lungile Bomela, tree vir Malakoane en die LUR vir onderwys op.

* Die derde poging om die  hoërskool se begroting goedgekeur te kry, het Maandagaand geslaag. Na wat verneem word is ’n voorgestelde verhoging in skoolgeld van 8,7% aanvaar. Die vorige kere is ’n verhoging van 12% voorgelê.

Meer oor:  Grey-Kollege  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.