Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Grondwetlike krisis’ oor Afrikaans by universiteite
Adv. Jan Heunis, president van die Universiteit Stellenbosch se konvokasie. Foto: Michelle van der Spuy

As Afrikaanses bloot gaan aanvaar dat vier universiteite binne ’n jaar die status van Afrikaans as primêre onderrigtaal beëindig het, is die land in ’n grondwetlike krisis.

Só het adv. Jan Heunis, president van die Universiteit van Stellenbosch se konvokasie, Donderdag op die FAK se konferensie oor transformasie in die universiteitswese in Pretoria gesê.

“Dan is hy [die land] in ’n grondwetlike krisis omdat, soos die regering, die nasie daarmee dan ook sê dat die Grondwet nie die papier werd is waarop dit geskryf staan nie,” het Heunis gesê.

Hy het aangevoer dat art. 6(2) van die Grondwet juis bepaal dat in die lig van die historiese inkorting van die status van inheemse tale, die staat praktiese en daadwerklike maatreëls moet tref om die status van dié tale te verhoog en die gebruik daarvan te bevorder.

“As ons nou, 20 jaar ná die inwerkingtreding van hierdie Grondwet, na die Suid-Afrikaanse landskap kyk, dan dring die vraag homself op: Wat het geword van hierdie ondernemings?” vra hy.

“Aan die een kant word die grondwetlike opdrag om inheemse tale, anders as Afrikaans, tot wetenskapstale te ontwikkel, roekeloos verontagsaam. Aan die ander kant word die opdrag om Afrikaans se status as akademiese taal uit te bou eweneens verontagsaam. Dit gaan lei, in die woorde van die konstitusionele hof, tot die ‘equality of the graveyard, not of the vineyard’.”

Volgens Heunis het die taal wat ’n mens praat niks te doen met of mense, individueel of kollektief, inherent goed of boos is nie, of met die politieke keuses wat hulle vir hulself maak en wat hulle dalk by magte is om aan ander op te dring nie.

Hy het gesê Afrikaanssprekendes in universiteitsbesture, dosentekorpse, senate en rade het die weg van die minste weerstand gekies in die aangesig van die mees opportunistiese en onverdienstelike aansprake van agitators en anargiste.

“Sonder om te vra of daar nie die middele gevind moet word om eerder as om Afrikaans as ’n primêre taal van onderrig af te skaf nie, die verantwoordelikheid nie aanvaar behoort te word om ’n inheemse taal, anders as Afrikaans, ook tot volwaardige akademiese taal te ontwikkel nie,” sê hy.

“Die bitter ironie is dat ons hierdie besluite te danke het aan mense wat behoort te weet dat moedertaalonderrig die beste onderrig is. Die groter ironie, die tragedie, is dat hulle Afrikaanssprekendes is.”

Heunis het saam met onder andere prof. Fika van Rensburg, rektor van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, en Willie Spies, raadslid van die Universiteit van Pretoria, as spreker by die konferensie by die Voortrekkermonument opgetree.

Meer oor:  Fak  |  Willie Spies  |  Universiteite  |  Afrikaans  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.