Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Groot hartseer oor skade aan UK-biblioteek
Oorblyfsels van boeke in ’n biblioteek van die Universiteit van Kaapstad wat Sondag gebrand het. Foto: Jaco Marais

Die brandskade aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se Jagger-biblioteek en veral die vernietiging van die spesiale versameling word wyd betreur.

Verskeie geboue op die UK-kampus is Sondag in die brand beskadig of verwoes, sowel as omliggende geboue asook dele van die Tafelberg Nasionale Park. Koshuisgangers is tydens die brand ontruim, terwyl die inwoners van woonbuurte soos Zonnebloem en Vredehoek Maandag ontruim is.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovering, het in ’n verklaring die spoedige reaksie van die nooddienste, Sanparke en die UK-bestuur geloof, veral met die ontruiming van die studente en om alternatiewe verblyf te vind.

Hy het gesê dit is hartseer dat die brand onder meer die “ikoniese” Afrikastudies-biblioteek, die restaurant by die Rhodes-gedenkteken en die UK se boonste kampus verwoes het.

“Die Afrikastudies-biblioteek huisves die ANC se argiewe en dokumentasie van die ondergrondse publikasies. Dié biblioteek is ook die bewaarplek van die Bleek- en Lloyd-versameling van stories en notaboeke van hul ervarings met die /Xam and !Kun Kaapse San mense van die middel 19de eeu, sowel as afskrifte van baanbrekende Xhosa- koerante soos Imvo ZabaNtsundu.”

KYK OOK: Só lyk biblioteek voor en ná brand

Nzimande het ook die gesondheidsafdeling in sy departement opdrag gegee om in samewerking met die UK se dienste berading aan studente te bied.

Ujala Satgoor, hoof van die UK se biblioteke, het in ’n verklaring gesê van die waardevolle versamelings in die Jagger-biblioteek is heeltemal tot niet en die leeskamer is in puin gelê.

Danksy die brandopsporingstelsel wat elektriese branddeure gesluit het, het die brand gelukkig nie na die ander dele van die biblioteek versprei nie.

’n Volledige skadebepaling moet nog afhandel word.

Die Jagger-biblioteek is in 1931 voltooi en huisves manuskripte en argiewe en die UK se spesiale versamelings. Dit is ’n nasionale monument en was die oorspronklike universiteitsbiblioteek.

Die leeskamer van die Jagger-biblioteek wat in die brand verwoes is. Foto: Jaco Marais

Dit huisves onder meer seldsame boekversamelings, visuele argiewe, asook versamelings oor Afrika-geskiedenis. Op die vasteland is dit ook bekend as dié biblioteek met die omvattendste en mees diverse versameling van sowel gepubliseerde as argiefbronne oor Afrika, volgens die UK.

“Van ons moes hulpeloos staan en toekyk hoe hierdie geskiedkundige gebou brand,” het Satgoor gesê.

“Dit is vir die personeel en studente ’n hartseerdag.

Patric Tariq Mellet, skrywer en aktivis, het Sondagaand op sosiale media gesê hy is “in trane” oor die skade aan die Afrikastudies-biblioteek en dat hy meer as 1 500 publikasies in die argiewe het wat “oor 14 jaar in ballingskap gedruk is toe ek aan die stuur van die bevrydingsbeweging se drukkery was”.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys. Foto: Tebogo Letsie

Mellet het gesê hy het met als wat hy gedruk het een afskrif vir die argiewe gehou, afsonderlik van die amptelike argiewe wat vir die ANC gehou is. Hy meen die party beveilig en hanteer self nie sy argiewe met die nodige respek nie.

“Ek het geglo dat die Afrikastudies-biblioteek een van die veiligste argiefinstellings is en ook toeganklik vir enige navorser is. Wat ’n verlies. Dit is een van die ergste tragedies vir die intellektuele inligting wat nooit vervang kan word nie.”

Die Kaapstad Erfenistrust het Maandag gesê hy is verpletter deur die brand wat ’n “groot deel van die kulturele landskap van die Rhodes-landgoed, die historiese teekamer langs die gedenkteken en verskeie geboue op kampus vernietig het”.

Die trust het ook sy hartseer uitgespreek oor die skade aan die Jagger-biblioteek, die Fuller Hall-koshuis, Mostert se Meul en Cadboll-huis.

“Dit is nie net die geskiedkundige geboue wat verlore is nie, maar ook hul inhoud en versamelings: ’n heugenis en bron van besondere waarde vir alle Suid-Afrikaners en die wêreld.

Meer oor:  Kaapstad-Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.