Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Groot kommer oor gereedheid van skole in Oos-Kaap

Met net enkele dae oor voordat duisende onderwysers en leerlinge landwyd na hul skole moet terugkeer, sê skoolhoofde en onderwysers in die Oos-Kaap daar is groot onsekerheid oor of dit veilig is vir leerlinge om terug te keer na skole in dié provinsie.

Bekommerde onderwysers in die provinsie is dit eens dat die Oos-Kaap swaar gebuk gaan onder ’n unieke stel probleme wat onvoldoende water- en sanitasiegeriewe by skole insluit.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Dinsdag op ’n nuuskonferensie gesê gr. 12- en gr. 7-leerlinge sal op 1 Junie terugkeer skool toe.

Die nasionale Covid-19-bevelsraad en die kabinet het dié datum goedgekeur.

Onderwysers moet Maandag op hul poste wees, terwyl die datum waarop leerlinge in ander grade sal terugkeer, mettertyd aangekondig sal word.

Onderwysers en hoofde in Nelson Mandelabaai sê die meeste van hulle is onseker oor presies wat hulle te doen staan weens vae en onvolledige inligting wat die Oos-Kaapse departement van onderwys aan hulle deurgegee het.

Dié hoofde en onderwysers, wat anoniem wil bly uit vrees dat hulle hul werk kan verloor, sê die provinsiale departement van onderwys het nog nooit hul sake in orde gehad nie.

Hulle meen leerlinge se veiligheid kan nie aan die departement toevertrou word nie.

Met net nege dae oor voordat die eerste leerlinge by hul lessenaars inskuif, het die departement teen Donderdag nog nie al die beloofde skoonmaakmiddels, termometers en ander beskermende toerusting soos handreinigers by skole in die provinsie se 12 distrikte afgelewer nie.

Luidens ’n brief wat Themba Kojana, hoof van die onderwysdepartement in die Oos-Kaap, aan skole in die provinsie gestuur het, moes die departement inderhaas ’n plan maak toe die nasionale tesourie aandui die skole moet self beskermende toerusting bekom.

Volgens die oorspronklike instruksie van die nasionale tesourie moes die departement bestellings plaas by die tesourie vir beskermende drag.

Hulle is egter op 6 Mei in kennis gestel dat al die beskermende drag wat die nasionale tesourie bekom het, herlei gaan word na die departement van gesondheid,

en dat die provinsiale departemente plaaslik hul toerusting moet kry.

Loyiso Pulumane, woordvoerder van die onderwysdepartement in die provinsie, sê die versoek om kwotasies van diensverskaffers het toe begin, en het verlede Woensdag gesluit.

Die diensverskaffers wat goedgekeur is om goedere aan skole en aan die provinsie se hoofkantoor te verskaf, is uit meer as 15 000 diensverskaffers gekies wat belangstelling getoon het.

Die meeste skole in landelike gebiede van die provinsie sukkel met water- en sanitasiegeriewe. Ons benodig hulp op nasionale vlak. Ons het op 7 Mei begin om beskermende drag te bekom sodat ons gereed kan wees vir skole om te open.

Volgens Pulumane het die aflewerings aan skole Woensdag begin, en behoort die departement teen Vrydag in ’n beter posisie te wees om te sê hoe dié aflewerings vorder.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) moedig mense aan om gereeld hul hande te was met seep en water om die verspreiding van die koronavirus te voorkom, maar talle skole in die Oos-Kaap sit sonder water en voldoende sanitasiegeriewe.

Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, het onlangs tydens ’n voorlegging aan pres. Cyril Ramaphosa erken 3 358 skole in die provinsie benodig watertenks.

Hulle is egter nog besig om die tenks te kry deur ’n toelaag vir infrastruktuur aan skole.

Volgens Mabuyane moet meer as 2 700 skole toegerus word met die nodige sanitasiegeriewe, waarvan 79 reeds voltooi is, en 146 is onder konstruksie.

Die modderskole in die Oos-Kaap besorg steeds die grootste hoofbrekens.

“Die meeste skole in landelike gebiede van die provinsie sukkel met water- en sanitasiegeriewe. Ons benodig hulp op nasionale vlak.

“Ons het op 7 Mei begin om beskermende drag te bekom sodat ons gereed kan wees vir skole om te open.”

Die minister het op ’n slim manier weggeskram van die feite deur te sê die skole se gereedheid gaan vorder soos wat die tyd naderkom.

Mabuyane het ook gesê die 80 000 matrieks is sedert die inperking nie agtergelaat nie, want hulle het aanlyn lesse gekry.

Onderwysunies (Naptosa, Sadtu, SAOU, PEU, Natu) het ná Motshekga se aankondiging ’n gesamentlike verklaring uitgereik.

Hulle het hul eie ondersoek gelas om skole se gereedheidsgrondslag te bepaal, omdat die inligting wat die minister aan provinsies oordra, nie altyd op grondvlak ’n ware weergawe is nie, lui hul verklaring.

Hulle meen dit is weer die geval, en het die minister se “vae” uitlatings soos “die eerste besending het by skole aangekom en meer aflewerings gaan mettertyd gedoen word”, as kommerwekkend bestempel.

“Vergelyk dit met die uitslae van ’n opname wat gedoen is by 9 365 skole landwyd, dan moet die minister se optimisme bevraagteken word. Die opname is voltooi deur skoolhoofde wat op grondvlak is en aan wie die bestuur van skole toevertrou word.

“Wanneer 79% van die respondente aandui hulle het nie regulasies gekry oor hoe om te werk te gaan met kwessies van veiligheid nie, 60% sê hul bestuurders het nie met hulle kontak gemaak nie, en 92% sê hul kantore en klaskamers is nog nie skoongemaak en ontsmet nie, dan moet jy weet daar is ’n probleem.

“Die minister het op ’n slim manier weggeskram van die feite deur te sê die skole se gereedheid gaan vorder soos wat die tyd naderkom.”

Die unies dring daarop aan dat daar eers voldoen moet word aan al hul eise voordat onderwysers of leerlinge na skole terugkeer.

Meer oor:  Koronavirus  |  Oos-Kaap  |  Covid-19  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.