Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Groot verwarring rondom skole se heropening

Die departement van basiese onderwys het Sondagaand bekend gemaak dat skole eers op 8 Junie sal heropen, en nie reeds Maandag soos vroeër in die Staatskoerant afgekondig is nie.

skole heropen, covid-19
'n Werker spuit verlede week ontsmettingsmiddel in 'n klaskamer by die Landulwazi Comprehensive School in Johannesburg. Foto: AP

Groot verwarring het ontstaan nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, haar nuuskonferensie vir Sondagaand om 18:00 op die nippertjie gekanselleer het.

Sy sou die land toegespreek het oor die gereedheid van skole wat Maandag klasse vir gr. 7- en gr. 12-leerlinge sou hervat het.

Skole se gereedheid

In ’n verklaring wat Sondagaand deur Elijah Mhlanga, woordvoerder van die onderwysdepartement, uitgereik is, blyk dit die besluit spruit uit drie verslae van rolspelers wat tot bekommernis oor skole se gereedheid gelei het.

“Hoewel heelwat vordering gemaak is en ’n vlak van 80%-gereedheid bereik is, is daar ’n bekommernis by die raad van onderwysministers (Cem). Sekere provinsies het nie beskermingstoerusting, vir leerlinge in die besonder, ontvang nie en sommige skole het nie voorbereiding vir die terugkeer van personeel en leerlinge getref nie.

“Die skole is dus nie gereed om onderwysers en leerlinge te ontvang nie,” lui die verklaring.

Mhlanga sê onderwysersunies, beheerliggame, die Menseregtekommissie en ander belanghebbendes is oor die besluit ingelig.

Volgens die verklaring kan skole se bestuurspanne, onderwysers en ander werknemers wel Maandag terugkeer. “Hierdie week moet gebruik word om voor te berei vir leerlinge se terugkoms.”

Intussen heers daar verwarring onder onderwysunies rondom die heropening van skole.

Chris Klopper, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie.

Chris Klopper, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê indien skole voldoen aan die vasgestelde regulasies kan hulle heropen. “Die besluit lê egter nie by ons nie. Maar as skole aan die gesondheidsmaatreëls voldoen, dan kan hulle mos oopmaak.”

Klopper sê daar is skole in Gauteng, Limpopo en in die Wes-Kaap wat reeds aangedui het hulle sal leerlinge Maandag terugverwelkom.

Vrystaat

Dr. Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie vir Suid-Afrikaanse Beheerliggame (Fedsas), sê skole in die Vrystaat is nog glad nie gereed om leerlinge te ontvang nie.

“By sommige skole in die Vrystaat is die beskermingstoerusting vir leerlinge en werknemers eers laat Sondagmiddag afgelewer.”

Hy sê plattelandse skole is ook nie verseker van infrastruktuur wat werk nie. “Daar is ’n groot moontlikheid dat baie skole in die platteland nie lopende water sal hê nie.”

Boonop is daar skole wat eers oor die naweek vorms gekry het wat aandui dat hulle werkers moet kry en oplei om die skoolterreine skoon en veilig te hou.

grey-kollege
Grey-kollege in Bloemfontein se ingang. Foto: Argief

Skole in Bloemfontein het reeds Saterdagaand aan leerlinge wat in koshuise bly opdrag gegee om eerder by die huis te bly.

Volgens ’n verklaring wat Sondag deur Grey-kollege uitgereik is, het hulle, St Michael’s School for Girls, Eunice High School en die Hoër Meisieskool Oranje ooreengestem om nie hul skole te heropen nie.

Volgens die verklaring sal die skole die kinders opdrag gee om terug te kom sodra die minister dit duidelik gemaak het wanneer die skole weer vir leerlinge sal heropen én wanneer dit veilig is om terug te keer skool toe.

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement het reeds verlede week aangedui dat onderwysers in die provinsie nie Maandag na skole sal terugkeer nie.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van dié departement, sê die departement het reeds op 10 Mei ’n omsendbrief uitgestuur wat sê hulle sal die werknemers inlig wanneer hulle weer na skole kan terugkeer. Dié brief is steeds geldig.

Noord-Kaap

Mac Jack, Noord-Kaapse LUR vir onderwys, sal Maandagmiddag ’n aankondiging doen oor die provinsie se gereedheid vir die heropening van skole.

Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het aangekondig dat leerlinge Maandag na skole kan terugkeer. Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR van onderwys, het in ’n verklaring gesê hulle sal nie toelaat dat skole onder al die onsekerheid ly nie.

Sy sê die Wes-Kaapse regering het ná Motshekga se vorige aankondiging al die moontlike gedoen om die skole gereed te kry vir leerlinge wat van Maandag af sal opdaag. Volgens haar het skoolhoofde en personeel hulle gedaan gewerk om te voldoen aan al die Covid-19-regulasies vir gesondheid en veiligheid. Daar is ook R280 miljoen uitgegee op beskermende toerusting en skoonmaakmiddels.

Ouers se besluit

Paul Colditz, voorsitter van Fedsas, sê die besluit om kinders terug skool toe te stuur, berus by die ouers. “Dit is ouers se volste reg om te kan besluit. Indien hulle voel skole is nie gereed nie, is hulle daarop geregtig om hul kinders tuis te hou. Indien hulle voel skole is gereed en hul kinders kan terugkeer, is dit ook hulle reg,” sê hy.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê Solidariteit sal ouers, leerlinge, onderwysers en skole in ’n regsaksie ondersteun indien skole wat voldoen aan alle gesondheidsvereistes nie toegelaat word om te heropen nie.

“Die minister het op 29 Mei voorskrifte uitgereik waarvolgens skole op ’n gefaseerde grondslag, onderhewig aan streng vereistes, vanaf 1 Junie kan begin oopmaak.”

Volgens Solidariteit sal dit onregmatig wees om nou te besluit dat skole wat gereed is, en aan die vereistes voldoen, nie kan oopmaak nie, sê Hermann.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.