Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Harte klop warm oor meisie (5) op onderwyser se rug
Riaan van Straten, hoof van sport aan die Curro- private skool in Kathu, met klein Angela Motswamere op sy rug. Hier is haar stompies te sien. Op Facebook is dié foto teen gistermiddag (Maandagmiddag) al 59 keer gedeel, 133 mense hou daarvan en 15 mense het kommentaar daarop gelewer. Foto's: Sulette de Bruin
Angela Motswamere lag oopmond van die lekkerte terwyl Riaan van Straten met haar op sy rug hardloop.Foto: Facebook
Riaan van Straten en Angela Motswamere moes hard probeer om nie laaste te kom nie. Foto: Facebook

’n Onderwyser aan die Curro- private skool in Kathu in die Noord-Kaap het baie harte aangeraak toe hy ’n gestremde meisie op sy rug getel en gehelp het dat sy 60 m saam met al haar klasmaats kan hardloop.

Riaan van Straten, hoof van sport en ook ’n oud-Griekwa-, Arende- en Puma-rugbyspeler, sê hy weet nie hoekom dit mense so raak nie.

“Ek verwag dat elke ou so moet wees,” sê hy.

“Dit is hoe ek grootgemaak is.”

Op die skool se interhuis-atletiekbyeenkoms Vrydag het die afsitter Van Straten geroep omdat daar  ’n “probleem” was.

By die wegspring het klein Angela Motswamere (5) gesit – reg vir die wedloop.

“Die afsitter het vir my gesê hier is ’n parapleeg wat graag wil hardloop en dat iemand haar net moet help.”

Hy het eers gedink sy is net verlam.

“Toe ek haar sien, het ek eers gedink sy sit op haar knieë. Dit is eers toe sy opstaan dat ek besef het sy het nie die onderste helfte van haar bene nie.”

Sonder om twee keer te dink het Van Straten haar op sy rug getel.

“En Angela het van die wegspring tot by die eindstreep aanhoudend gegiggel.”

Dit was tog uitdagend om met haar op sy rug te hardloop.

“Met die wegspring het ek eers gedink dit sal onregverdig wees as ek die ander kleintjies weghardloop. Maar dit was uitdagend met iemand op my rug. Ek moes hard probeer hardloop om nie laaste te kom nie.

Toe ek haar neersit, het sy aanhoudend geglimlag en gelag. Dit was die mooiste. Ons, ek en sy, het dit baie geniet.
Riaan van Straten

“Eindelik is dit nie die plek wat saak maak nie. Ek kon nie Angela se gesig in die wedloop sien nie, maar toe ek haar neersit, het sy aanhoudend geglimlag en gelag. Dit was die mooiste. Ons, ek en sy, het dit baie geniet.”

Die onderwysers het aan Van Straten gesê indien hy haar nie opgetel het nie, sou Angela verseker op haar stompies die wedloop met vasberadenheid aangedurf het.

“Ek is baie lief vir sport en kinders. Daarom het ek nie eens twee keer gedink om dit te doen nie.”

Eddie Conradie, skoolhoof, sê die boodskappe het van oral heen ingestroom nadat die foto’s op Facebook geplaas is.

“Mense wou maar net sê hoe ’n mooi gebaar dit is,” sê hy.

Van Straten en sy vrou, Joanie, het ook hul eie uitdagings by die huis.

Hul tweejarige dogtertjie, Carli, is met vier verskillende hartkwale gebore en het reeds drie ope hartoperasies gehad.

“Ons maak haar groot nes enige van die ander kinders. Daarom het ek nie eens twee keer oor Angela gedink nie.”

Meer oor:  Curro  |  Kathu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.