Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Heropening: Staat ‘kan nie private skole dwing nie’

Die werkwyse en skoolkalenders van private of onafhanklike skole in Suid-Afrika kan nie net sommer weens die Covid-19-pandemie verander word nie.

So het Reginah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, Woensdagmiddag gesê toe sy en die departement die parlement se twee komitees oor basiese onderwys oor die vertraagde heropening van skole, sowel as die vordering met die nasien van die matriekantwoordstelle toegespreek het.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, was weens siekverlof nie teenwoordig nie.

Motshekga het vroeër aangekondig dat die skole vanjaar twee weke later op 15 Februarie sal heropen.

Mhaule se uitlatings oor private skole het gekom nadat verskeie LP’s hul ontevredenheid en selfs “walging” uitgespreek het omdat sommige private skole reeds oop is, terwyl staatskole nog toe is.

Die adjunkminister het dit duidelik aan LP’s gemaak dat Suid-Afrika een basiese-onderwysstelsel het.

“Ons het egter wette en beleid wat die bedryf van private en onafhanklike skole toelaat. Ons hoor sommige vra waarom ons nie een skoolkalender en -rooster vir alle skole het nie.

“Ons kan egter nie net ons wette en beleid vir private skole weens Covid-19 verander nie. Ons moet deeglike besprekings daaroor hou.”

Onafhanklike skole was deel van die konsultasies en het saamgestem. Van hulle was reeds oop toe die aankondiging gedoen is. Hulle het sedertdien weer toegemaak.

Volgens haar is daar wyd met belanghebbendes in die sektor geraadpleeg voordat besluit is om die skole op 15 Februarie te heropen.

“Onafhanklike skole was deel van die konsultasies en het saamgestem. Van hulle was reeds oop toe die aankondiging gedoen is. Hulle het sedertdien weer toegemaak.

“Sommige het wel versoek dat hul leerlinge wat van ver kom en in hul koshuise tuisgaan, toegelaat word om steeds ingevolge streng Covid-19-maatreëls aan te bly,” het Mhaule bygevoeg.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement, het bygevoeg dat die indruk geskep word dat private en onafhanklike skole “sagkens” behandel word.

Hulle bestaan egter volgens hom ingevolge die Grondwet en beleide. “Die departement reguleer nie hul skoolkalenders nie. Ons moet dus sensitief daarteenoor wees.”

Volgens hom is die staatskole egter gereed in terme van alle Covid-19-maatreëls om te heropen.

“As die skole môre heropen, sal hulle presies weet wat om te doen ingevolge ons gereedheidsplan wat reeds in November verlede jaar aan die nasionale koronavirusbevelsraad voorgelê is.”

Op die vraag oor of Umalusi die geloofwaardigheid van verlede jaar se matriekeindeksamen sal bevestig nadat twee vraestelle uitgelek het, het Mweli bygevoeg dat “ons geen verleentheid van Umalusi se kant met die uitslae verwag nie”.

“Umalusi het nog altyd ingevolge die wet opgetree en ons verwag dat hulle dit weer sal doen,” het Mweli gesê.

As die skole môre heropen, sal hulle presies weet wat om te doen ingevolge ons gereedheidsplan wat reeds in November verlede jaar aan die nasionale koronavirusbevelsraad voorgelê is.

LP’s het ook gehoor dat die nasienproses van die matriekantwoordstelle goed vorder en dat die uitslae nasionaal na verwagting teen 22 Februarie deur Motshekga bekend gemaak sal word.

Mweli het verder benadruk dat die heropening van skole op versoek van die departement van gesondheid uitgestel is wat bekommerd was omdat gesondheidsgeriewe en -dienste tans onder erge druk verkeer weens die tweede vlaag van Covid-19-infeksies landwyd.

Die infeksievlakke onder onderwysers, ondersteuningspersoneel by skole en leerlinge is ook in die besluit in ag geneem.

Mweli het die komitees ingelig dat sowat 16 495 onderwysers in totaal tot en met Januarie vanjaar landwyd die koronavirus opgedoen het, sowel as 3 123 ondersteuningspersoneellede en 5 663 leerlinge.

Altesaam 409 onderwysers en 55 ondersteuningspersoneellede landwyd het aan die virussiekte gesterf.

Vier leerlinge het in die Vrystaat aan die siekte gesterf, drie in die Oos-Kaap, twee in Mpumalanga en een in Noordwes.

Meer oor:  Heropening  |  Reginah Mhaule  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.