Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Herrie oor seksvoorligting kring uit
Bongiwe Pricilla Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys. Foto: Verskaf

Die herrie oor die departement van basiese onderwys se omstrede plan vir seksvoorligting aan skoolkinders kring uit.

Die DA sê die voorsitter van die parlementêre komitee vir basiese onderwys het vir alle praktiese doeleindes ’n stokkie gesteek voor openbare deelname aan die voorgestelde lewensoriënteringskurrikulum vir seksvoorligting.

’n Herrie het losgebars nadat die voorgestelde studiemateriaal van die departement se nuwe Comprehensive Sexuality Education (CSE) ’n paar weke gelede aan die media gelek is.

Nomsa Marchesi, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, sê Sondag in ’n verklaring die DA het ’n brief aan Bongiwe Pricilla Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die betrokke portefeuljekomitee, geskryf waarin die party gevra het dat die komitee dringend hieroor vergader.

Mbinqo-Gigaba se antwoord was dat die departement reeds ’n gedetailleerde voorlegging oor die kwessie gedoen het.

“Ons weet die departement het reeds ’n voorlegging aan die komitee gedoen, maar die groot ongelukkigheid onder ouers en onderwysers wys dat daar ’n behoefte is vir ’n vergadering waar al die rolspelers betrokke is.

“Dit is dus noodsaaklik dat die (portefeulje)komitee instem dat ander relevante en besorgde rolspelers die geleentheid kry om ook voorleggings te doen,” sê Marchesi.

Mbinqo-Gigaba se verwerping van die DA, die amptelike opposisie, se versoek kom neer op die aktiewe verhindering van openbare dialoog in die parlement, sê sy.

Die DA meen seksopvoeding moet ’n fyn balans handhaaf tussen inligting om jong mense toe te rus om die regte besluite te neem en om leerlinge onopsetlik te seksualiseer.

Die DA meen seksopvoeding moet ’n fyn balans handhaaf tussen inligting om jong mense toe te rus om die regte besluite te neem en om leerlinge onopsetlik te seksualiseer.

Die departement het vroeër reeds die kritiek verwerp dat die CSE kinders te veel aan seks sal blootstel. Navorsing toon dat die CSE ook nie seksuele aktiwiteite verhoog nie, sê die departement.

Chris Klopper, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê dié vakbond kry presies dieselfde behandeling van die departement van basiese onderwys as wat die DA ervaar het.

“Alles geskied in geheimhouding. Die departement het nie die volle waarheid aan die parlementêre komitee vertel nie en hy vertel dit ook nie vir ons nie.

“Die laaste twee tot drie weke het ons ook sonder sukses probeer om met die departement hieroor te praat.”

Klopper sê die gevoel van die breër gemeenskap is dat die inhoud van die leermateriaal ouderdomsontoepaslik is.

“Die geheimsinnigheid van die departement is die grootste probleem,” sê Klopper.

“Ek sê weer, daar is onderwysers wat gaan weier om dit te doen en ek praat nie net van SAOU-lede nie.

Altesame 87,7% het gesê die nuwe inhoud, kurrikulum en lesplanne is nie aan hulle voorgelê nie.

“Van die ander vakbonde se lede is ook baie ongemaklik hiermee.”

Die SAOU het verlede week ’n meningspeiling onder van sy lede hieroor gedoen en die meer as 740 respondente was geheel en al daarteen gekant.

Altesame 87,7% het gesê die nuwe inhoud, kurrikulum en lesplanne is nie aan hulle voorgelê nie, en 97,9% het gesê hulle het nog nie opleiding oor die wysigings ontvang nie.

Ander vakbonde is ook ongelukkig.

Die Nasionale Onderwysersunie (Natu) sê daar is ook glad nie met hom in gesprek getree nie.

Die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika (Naptosa) het vroeër gesê daar is  ’n behoefte aan seksopvoeding wat ouderdomstoepaslik is, maar die departement moet die verskillende vakbonde vooraf raadpleeg.

Basil Manuel, Naptosa se uitvoerende hoof, het Sondag gesê die departement hanteer die kwessie baie swak.

“Die departement is nie in beheer nie. Ons het nou nog nie die kurrikulum of die handboeke gesien nie en ons weet dus nie of dit goed of sleg is nie,” sê Manuel.

Mbinqo-Gigaba en die departement van onderwys het nog nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, het Sondagmiddag navrae na die portefeuljekomitee verwys.

“Die komitee is in ‘n beter posisie om te reageer op die wesentlikheid van die kwessie wat die DA met die voorsitter opgeneem het.”

Mbinqo-Gigaba het nog nie op ‘n versoek om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Leerders  |  Seks  |  Departement Van Onderwys  |  Onderwys  |  Onderrig  |  Seksvoorligting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.