Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Histerie’ met aansoeke vir skole – ouer

Carmen Meyer kan die Hoërskool Montana in Pretoria se rugbyveld van haar huis af sien en as daar skolesport is, kan sy die skare hoor juig.

Tog bly sy volgens die Gautengse departement van onderwys nie naby genoeg om die skool se voorkeur-waglys vir toelating vir haar seun te haal nie.

Hierdie boodskap beweer skole naaste aan die huisadres kry voorkeur. Nietemin is talle laat weet die kans om in die naaste skool plek te kry, is klein.

Sy is een van talle Gautengse ouers wat die afgelope week ’n bloutjie geloop het op die departement se aanlyn platform vir aansoeke om toelating tot skole in 2020. Aansoeke vir voornemende gr. 1’s en gr. 8’s op die platform het Maandagoggend geopen.

Die provinsie het te min plek vir sy toenemende leerlingtal, en veral goeie skole kry baie meer aansoeke as waarvoor hulle plek het. Teen Januarie vanjaar was 16 000 leerlinge nog nie in skole geplaas nie.

Dit het al ’n instelling geword dat duisende Gautengse ouers op die eerste dag van aanlyn aansoeke in ’n soort virtuele wedloop probeer om hul elektroniese aansoek so gou moontlik ingedien te kry.

“Dis regtig massahisterie, vra vir enige ma,” sê Meyer.

Dié jaar was die spanning nog hoër nadat Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, aanvanklik gesê het taalvoorkeure sal nie in ag geneem word wanneer kinders geplaas word nie.

'Die stelsel is ’n totale gemors!’

Hy het eers sy deuntjie verander nadat die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) gedreig het om ’n interdik teen die departement aan te vra.

Vir ouers soos Meyer lê die knoop by die departement se stelsel van vyf waglyste. Aansoekers word in vyf groepe verdeel: Waglys 1 (WA1) vir dié wat naaste aan die skool woon (die “tuis-opsie”), WA2 vir dié wat verder woon, maar reeds ’n sib in die skool het, WA3 vir ouers wat plek soek in ’n skool naby hul werkplek, WA4 vir mense wat binne 30 km van die skool af bly en WA5 vir aansoeke by gespesialiseerde skole.

Die kinders op WA1 kry voorkeur by plasings en omdat die gewilde skole vol is, is die kans skraal om plek te kry as jy nie op WA1 is nie.

Meyer sê sy het Maandagoggend gesukkel omdat die rekenaarstelsel stadig was, maar sy het nietemin haar aansoek vir haar gr. 7-seun binne 15 minute afgehandel.

Toe kry sy die skok: Sy het nie plek gekry op WA1 vir die Hoërskool Montana nie, maar op WA4.

’n Ander gefrustreerde Afrikaanse ouer van Pretoria, wat anoniem wil bly, sê hy woon minder as ’n kilometer van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria af, maar volgens die stelsel was dié skool nie vir hom ’n “tuis-opsie” nie. Hy kon net Pretoria Boys High kies op die voorkeur-opsie. Die gevolg is dat sy kind nou op die Afrikaanse skool se WA4 is.

“Die stelsel is ’n totale gemors!” sê hy.

’n Ouer van Northcliff, wat vir ’n Engelse kind aansoek gedoen het, kon weer nie die Engelse skole naaste aan haar huis kies nie. Afrikaanse skole verder van haar huis, is volgens die stelsel haar “tuis-skole”.

Op Facebook het tientalle ouers oor dieselfde probleem gekla. Een gebruiker sê: “Ek het ’n WA4-nommer gekry en my huis is 300 m van die skool af. Ons bly vir alle praktiese doeleindes bý die skool. Ek verstaan nie. Ek kan nie bekostig om haar na skole te stuur waarvoor vervoer nodig is nie.”

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het ouers gepaai en pak die skuld op “groeiprobleme”. “Sommige ouers het WA4-nommers gekry pleks van WA1. Dit is omdat die kaarte met die voersones te stadig gelaai het weens netwerk-konnektiwiteit,” het hy gesê.

Die kwessie kry aandag en mense wat naaste aan skole woon, sal nie benadeel word weens die probleme nie, sê hy.

Lesufi hou vol dié aanlyn stelsel is die “toekoms”. Hy sê dit gee ouers ’n regverdige en billike geleentheid in die aansoekproses.

Meer oor:  Panyaza Le­Sufi  |  Gauteng  |  Skooltoelating
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.