Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Hoërskool DF Malan: ‘Dit is presies wat ons wou vermy’

Te midde van erge omstredenheid oor ’n voorval by die Hoërskool D.F. Malan in Bellville sê die skoolbeheerliggaam nou hy ondersoek die voorval waarin leerlinge van die LGBTQI+-gemeenskap neerhalende aanmerkings toegesnou is.

Die skool sê in ’n verklaring hy wou juis so ’n situasie verhoed het. In die verklaring stel die skoolbeheerliggam ook sy kant van die saak oor die voorval van beweerde diskriminasie teenoor leerlinge van die LGBTQI+-gemeenskap wat reeds wyd opslae gemaak het.

Die skool sê hy betreur die voorval en sal alles in sy vermoë doen om die herhaling van die gebeure te voorkom.

Die aanloop tot die gebeure was toe ’n leerling die skool genader het en gevra het of Pride-maand, wat daarop gemik is om lede van die LGBTQI+ gemeenskap te vier, ook by die skool gevier kan word.

“Die hoof, in oorleg met lede van die beheerliggaam, het besluit om die versoek nie toe te staan nie. Die mening is gehuldig dat so ’n geleentheid tot spanning en verdeeldheid binne die skool kon lei.”

Luidens die verklaring was dit die skool se waarneming dat daar reeds spanning onder die leerlinge was weens die koronaviruspandemie en akademiese druk.

“Die hoof het aan die leerling voorgestel dat daar moontlik ander geleenthede kan wees, soos om Jeugmaand te vier, wat meer inklusief sou wees,” lui die verklaring.

“Verder het die skool onderneem om meer te doen om onderlinge verdraagsaamheid en respek onder leerlinge te bevorder. Tydens gesprekke met klasgroepe van die begin van die jaar af is verdraagsaamheid en respek reeds deur die hoof beklemtoon.”

Die skool sê sommige leerlinge het besluit om in elk geval ’n sit-in gedurende pouse te hou.

“Soos wat die skool geantisipeer het, het dit daartoe gelei dat ’n groepie leerlinge onaanvaarbare aanmerkings gemaak het. Hierdie onaanvaarbare opmerkings is heen en weer geslinger.

“Die uitkoms was presies wat die skool wou verhoed.”

Soos wat die skool geantisipeer het, het dit daartoe gelei dat ’n groepie leerlinge onaanvaarbare aanmerkings gemaak het. Hierdie onaanvaarbare opmerkings is heen en weer geslinger.

Luidens die verklaring het die skool aan die begin van die jaar ’n nuwe bestaanstelling, visie, missie en waardes verwoord wat daarop gemik is om ’n inklusiewe skool daar te stel.

“Die skool sal verdere planne maak en van kenners gebruik maak om diskriminasie en onverdraagsaamheid aan te spreek.

“Ons doelwit is steeds om inklusief te wees en ’n veilige ruimte vir elke leerling te skep. Die skool het aan die begin van hierdie jaar die Heroes Anonymous-app aangekoop om leerlinge die geleentheid te bied om boeliegedrag of enige ander elemente van wangedrag te rapporteer.”

’n Leerling van die skool en een van die leerlinge se ouers het op voorwaarde van anonimiteit gesê ná die afkeuring van hul voorstel het hulle besluit om “iets kleins vir hulself te reël” en vandeesweek elke pouse saam op die skool se rugbyvelde bymekaar te kom.

“Dit was nie ’n protes nie,” het die leerling gesê. “Ons wou net vir ander leerlinge in die skool wys dat daar wel ’n LGBTQI+-gemeenskap in die skool is.”

Ons doelwit is steeds om inklusief te wees en ’n veilige ruimte vir elke leerling te skep. Die skool het aan die begin van hierdie jaar die Heroes Anonymous-app aangekoop om leerlinge die geleentheid te bied om boeliegedrag of enige ander elemente van wangedrag te rapporteer.

Nadat hulle Maandag in die eerste pouse bymekaargekom het, is die groepie leerlinge na bewering deur ander leerlinge uitgejou, wat in ’n konfrontasie ontaard het.

Net ná pouse is een van die leerlinge wat lid van die LGBTQI+-groep was op ’n WhatsApp-groep met die naam “F#k die f#gs” bygevoeg.

Toe hulle die hoof, Sias Conradie, ná die byeenkoms nader, het hy glo gedreig as die LGBTQI+-groep weer bymekaarkom, kan hulle deur tugstappe in die gesig gestaar word.

Klagtes by MRK

Intussen het die Menseregtekommissie (MRK) ook sy kommer gedeel nadat hy glo verskeie klagtes rondom die situasie ontvang het.

“Ons neem kennis van bewerings dat die hoof ook verdere optrede deur LGBTQI+-leerlinge en hul ondersteuners tydens Pride-maand gestaak het,” sê Gushwell Brooks, MRK-woordvoerder.

“Die kommissie ondersoek die klagtes en sal ’n dringende vergadering belê met die skoolhoof asook met die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) om die bewerings te bespreek en te besluit op ’n pad vorentoe wat in die beste belang van die leerlinge van die skool is,” sê Brooks.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê sy is diep bekommerd oor die aantygings en het benadruk dat “sulke gedrag geen plek in ons skole het nie”.

Sy het bevestig dat die distrikskantoor begin het met ’n ondersoek “om al die feite te kry”.

Meer oor:  Df Malan  |  Lgbtqi+-Gemeenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.