Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Hoërskool se sportterrein na Ton Vosloo vernoem
Stephen Zietsman (links), Die Brandwag Hoërskool se skoolhoof, bedank Ton Vosloo, oudleerling wat diep spore in die mediawêreld getrap het, vir sy teenwoordigheid toe die skool se sportterrein Saterdag tydens die skool se tagtigste bestaansjaarvieringe na Vosloo vernoem is. Foto: Charles Pullen

Hy was nog op skool toe Ton Vosloo, wat Naspers tot ’n mediareus uitgebou het, sy eerste les in die mediabedryf gekry het.

Die afgelope Saterdag het Vosloo op die veld van sy alma mater, Die Brandwag Hoërskool in Uitenhage in die Oos-Kaap, gestaan en dié media-les herroep kort nadat die skool se sportterrein na hom vernoem is.

“Ek het die drang in my gehad, ek wou ’n joernalis wees,” vertel Vosloo onder die naambord van die nuwe Ton Vosloo-sportterrein.

“Op skool het ek vir ’n Engelese koerant in Uitenhage geskryf. Een van die berigte was toe Brandwag 5-8 teen Muir (College) verloor het. Die berig se opskrif was: Muir triumphs over Brandwag. ’n Onderwyser het ons rugbyspelers ingeroep en my gou laat verstaan dié verloor was maar naelskraap gewees.

“Ek wou nog verduidelik ek het nie die opskrif geskryf nie . . . Maar dit was my eerste les in die mediabedryf.”

Dié les was maar een van vele tydens Vosloo se suksesvolle loopbaan in die mediawêreld.

Stephen Zietsman, die skoolhoof, het Saterdag gesê dit is gepas om die skool se sportterrein tydens die skool se tagtigste bestaansjaarvieringe na ’n oud-Brandwagter soos Vosloo te vernoem.

“Hy is ’n man wat diep spore vir Afrikaans getrap het en ons as skool is verskriklik trots om hom ’n oudleerling te noem,” het Zietsman gesê.

Dit maak my trots om te sien hoe die skool, wat ook my fondament was, vooruitgaan.
Ton Vosloo

Volgens Vosloo sou hy nooit as leerling daarvan kon droom dat sy hoërskool se sportterrein eendag na hom vernoem sou word nie.

“Dit is ’n voorreg om vandag hier te kan staan.

“Die skool se geriewe is soveel beter en groter vandag. Dit maak my trots om te sien hoe die skool, wat ook my fondament was, vooruitgaan,” het Vosloo gesê.

Hy sê hy koester goeie herinneringe van sy skooldae en die onderwysers. “Ons buitelewe was gesond, groot aandag aan sport, debatte, volkspele, partytjies met en sonder Riebeek (College)-girls, die CSV en Voortrekkers.”

Vosloo, wat ook in 1937, die skool se stigtingsjaar, gebore is, se loopbaan in die mediabedryf het reeds op die ouderdom van nege begin toe hy koerante in Uitenhage se strate verkoop het.

Hy het tydens sy hoërskoolloopbaan as sportkorrespondent vir die Uitenhage Times gewerk.

Ná skool het hy as joernalis by die Oosterlig, die eerste Afrikaanse koerant in die Oos-Kaap en voorloper van Die Burger, gewerk. Vosloo was later 23 jaar lank voorsitter van Naspers.

* Netwerk24 is ’n produk van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Uitenhage
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.