Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Hof sal sê oor wettigheid van UP-taalbeleid
Studente skryf op ’n bord in een van die studie lokale tydens ’n protesaksie teen Afrikaans vroeër die jaar by die Universiteit van Pretoria Foto: Theana Breugem
Betogings oor Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria vroeër vanjaar. Foto: Theana Breugem

Voornemende studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) sal waarskynlik steeds kan registreer om volgende jaar in Afrikaans te studeer.

Dit nadat die minister van ­hoër onderwys en opleiding ­onderneem het om nie voort te gaan met wysigings aan die universiteit se institusionele statuut voordat die hofsaak tussen die UP en AfriForum oor die taalkwessie afgehandel is nie.

Die UP se raad het in Junie ’n taalbeleid aanvaar met Engels as amptelike taal. Dié beleid kan egter eers geïmplementeer word nadat die departement van onderwys die universiteit se statuut dienooreenkomstig gewysig het.

AfriForum en Solidariteit het in Julie ’n aansoek by die hof ingedien dat die besluit oor Engels as voertaal hersien word, op grond daarvan dat die instelling van ’n nuwe taalbeleid ongrondwetlik is ingevolge artikel 29(9) van die Grondwet.

In ’n brief aan AfriForum, gedateer 28 Julie 2016, onderneem die departement van

hoër onderwys en opleiding om nie voort te gaan met die wysiging van die UP se statuut totdat die hofsaak afgehandel is nie.

“Ons neem kennis van AfriForum se versoek om nie met wysigings van die statuut voort te gaan totdat die wetlikheid van die nuwe taalbeleid bepaal is nie.

“Die minister het nog nie besluit om die institusionele statuut te verander nie en onderneem om geen besluit te maak voordat die hooggeregshof ’n bevel uitgereik het nie,” lui die brief aan AfriForum.

Alana Bailey van AfriForum het die minister se onderneming as ’n “tussentydse sukses” beskryf omdat die nuwe beleid nie geïmplementeer kan word voordat die grondwetlikheid daarvan bepaal is nie.

Sy sê hulle wag nog vir ’n hofdatum vir die saak. Studente kan nog net tot einde September aansoek doen vir voorgraadse kursusse aan die UP.

“Studente moet sekerheid oor die universiteit se taalaanbod hê voor hulle vir studie in 2017 kan registreer,” sê Bailey.

“AfriForum bedank die minister vir sy standpunt wat hierdie reg erken en beskerm, in teenstelling met die universiteits­bestuur wat die wysiging van die taalbeleid probeer deur-stoomroller.”

Die UP het bevestig dat die statuut van die universiteit

eers verander moet word voor die taalbeleid verander kan word.

Anna-Retha Bouwer, Tuks-woordvoerder, sê dit is nog nie seker of studente wel nog volgende jaar in Afrikaans sal kan registreer nie.

“Dit hang af van wanneer die hofsaak afgehandel word en of die statuut betyds gewysig kan word voor studente volgende jaar registreer.”

Intussen gaan die proses om ook die Universiteit Stellenbosch (US) hof toe te neem oor hul taalbeleid volstoom voort, berig Abrie Burger.

Danie Rossouw, prokureur vir AfriForum, het aan Rapport gesê hulle hoop om binne die volgende tien dae reeds in die hof wees.

Die US-raad het in Junie vanjaar besluit dat Engels voortaan die voorkeurtaal by dié universiteit sal wees.

Meer oor:  Hof  |  Afrikaans  |  Universiteit Van Pretoria (Up)  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.