Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Hoof beboet, gemaan nadat hy studente-onnie wegjaag

Die skoolhoof wat ’n studente-onderwyser vroeër vanjaar van die skool weggejaag het oor sy haarstyl, is wel beboet en finaal gewaarsku, maar hy het nie die student vir sy optrede om verskoning gevra nie.

“Dit voel vir my steeds soos ’n onopgeloste saak,” het William Sezoe (19), ’n tweedejaar-onderwysstudent aan die Universiteit Stellenbosch, gesê.

André Muller, hoof van die Laerskool Vredenburg aan die Weskus, het Sezoe op 15 Februarie van die skool af weggejaag omdat die boonste deel van sy hare blond gekleur was. Sezoe moes as deel van sy studies verpligte waarneming by die skool doen.

William Sezoe, ’n onderwysstudent van die Universiteit Stellenbosch.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het Muller beboet en ’n finale skriftelike waarskuwing gegee. Die boete is egter vir 12 maande opgeskort op voorwaarde dat hy hom in dié tyd nie aan ’n soortgelyke oortreding skuldig maak nie.

Sezoe het Woensdag gesê hoewel Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, hom in ’n e-pos om verskoning gevra het, het hy geen verskoning van Muller gekry nie.

“Hy kry nou net ’n papiertjie en gaan aan met sy lewe. Ek, aan die ander kant, wie se menslikheid aangetas is, kry nie eens ’n ordentlike verskoning van die hoof om te kan aanbeweeg nie.”

’n Ondersoek na Muller se optrede is begin kort nadat Netwerk24 oor die voorval berig het.

Hy is van wangedrag aangekla en moes op 29 en 30 Maart voor ’n tugkomitee verskyn. Muller het egter enkele dae voor die tugverhoor skuld beken op die klag van wangedrag. Die verhoor is dus nooit gehou nie.

Sezoe het hom op die oggend van 15 Februarie vanjaar by die skool vir die twee weke lange verpligte waarneming aangemeld. Nog voordat hy na die aangewese klas kon gaan, het Muller vir hom gesê hy stel nie met sy haarstyl ’n goeie voorbeeld aan die leerlinge nie. Hy het gesê Sezoe kan terugkom nadat hy iets aan sy hare gedoen het.

Sezoe het die dag ná dié voorval gesê hy is getraumatiseer.

Muller het alle navrae na die WKOD verwys.

Millicent Merton, WKOD-woordvoerder, het bevestig dat Muller aan wangedrag skuldig bevind is. Sy het ook die straf bevestig.

Merton het gesê Muller het beken dat hy onvanpas opgetree het.

Volgens Merton het die voorsitter van die tugverhoor dit nie nodig gevind dat Muller Sezoe om verskoning hoef te vra nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.