SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Onderwys
Hoof verbied departement toegang tot skool

Die hoof van ’n privaat skool in Centurion wil voortgaan om leerlinge daar te onderrig, selfs nadat die departement van onderwys haar probeer dwing het om die skool te sluit.

Susan Borchard, hoof van Centauri-privaat skool, het Donderdagoggend wetstoepassers en verteenwoordigers van die departement van onderwys probeer verhinder om die skoolterrein te betree.

“Ons is van die onderwysdepartement, jy kan ons nie keer om in te gaan nie,” het een van die verteenwoordigers aan Borchard gesê.

Die departement het die skool se bedryfsregistrasie in April teruggetrek.

Wetstoepassers en verteenwoordigers van die departement van onderwys staan Donderdag voor die hek van die Centauri- privaat skool in Centurion. Foto: Christiaan du Plessis

Verteenwoordigers van die departement het ’n klag van die onwettige bedryf van ’n skool by die polisie aanhangig gemaak nadat hulle toegang geweier is.

Hulle is terug na die skool waarna Borchard toe wel besluit het om die hek vir hulle oop te maak.

Sy is ingelig dat sy onmiddellik alle bedrywighede moet staak en dat ’n hofbevel gekry sal word indien sy dit nie doen nie, sê Steve Mabona, ’n woordvoerder van die departement.

Hoewel skole volgens wet by die departement geregistreer moet wees, hou Borchard vol dat sy nie die skool gaan sluit nie.

“Ons gaan nie verder ’n pad met die onderwysdepartement loop nie, dis al wat ek gaan sê,” het Borchard Donderdagmiddag gesê.

Luidens ’n verklaring van die departement van onderwys voldoen die skool nie aan die nodige vereistes van die departement nie. Die skool het onder meer onderwysers aangestel wat nie die nodige kwalifikasies het nie en het ook nie op die beleid ten opsigte van assessering en eksaminering ag geslaan nie.

Mabona het by die skool gesê daar sal kriminele klagte teen die Borchard ingedien word indien sy voortgaan om die skool te bedryf.

“Ons win ook regsadvies in om ’n hofbevel teen haar te bekom om die skool te sluit.”

Altesaam 10 leerlinge word by die Centauri- privaat skool onderrig. Sommiges het spesiale leerbehoeftes.

Volgens Mabona sal die departement toesien dat die leerlinge na ’n ander skool verskuif word.

Ouers wie se kinders oudleerlinge van die skool is, was verheug om te hoor dat die departement teen die skool opgetree het.

Karin Versteegh, wie se dogter verlede jaar in matriek in die skool was, sê haar dogter is getraumatiseer nadat sy ses maande daar skoolgegaan het.

“Die werk is glad nie op standaard nie en ons het nooit behoorlike rapporte gekry nie. My dogter moet nou haar matriekjaar herhaal omdat sy so min geleer is,” het Versteegh gesê.

Nog ’n ouer wie se kind in die skool was, Belinda Koekemoer, sê dat die skool swak onderrig gegee het. Haar kind moes sy skooljaar herhaal nadat hy uit die skool gehaal is. “Ek dink die onderwysdepartement moes lankal teen die skool opgetree het. Dit is skadelik vir ’n kind wanneer hy nie in ’n koesterende omgewing goeie onderrig kry nie.”

Meer oor:  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.