Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
'Hulp nodig om gr. 1’s tot matriek op skool te hou'

Gesamentlike, aanhoudende ondersteuning en oop wees vir leer.

Dit is al wat gaan help om te sorg dat die gr. 1’s wat Woensdag met hul skoolloopbaan begin, oor 12 jaar matriek gaan voltooi, sê kenners.

Om leerlinge in die skool te hou om gr. 12 te voltooi, bly ’n voortdurende stryd.

Hugo Vermeulen, hoof van die Skoleondersteuningsentrum.Foto: Argief

In 2006 was 1 186 011 leerlinge in gr. 1. Altesaam 534 484 het in 2017 matriek geskryf en 401 435 het die eindeksamen geslaag. As die uitvalsyfer dus in ag geneem word, is die “regte” slaagsyfer 33,85%.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het vroeër dié getalle bevestig, maar bygevoeg talle faktore moet in ag geneem word.

Mhlanga sê sommige leerlinge sluit vroeër by beroepsgerigte opleidingskolleges (TVET-kolleges) aan, en die getal deeltydse kandidate is ook aan die toeneem. Dit beteken dat sommiges wat uitval, weer terugkeer om matriek te voltooi.

Hugo Vermeulen, hoof van die Skoleondersteuningsentrum, sê die onderwysdepartement sal dringend moet gaan kers opsteek by die skole met ’n baie lae uitvalsyfer.

“Hulle sal ’n studie moet gaan doen en uitvind hoekom daardie skole suksesvol is. Daar is sulke skole in alle gemeenskappe in die land.

“Dit is skole met absoluut toegewyde onderwysers wat op hoogte is van die beste onderwyspraktyke. Dis skole wat in die grondslagfases die basiese beginsels van lees en skryf vaslê.”

Volgens Vermeulen sal dit leerlinge moed gee om aan te gaan met verdere grade indien hul leesvaardighede goed is.

Hy sê verder die departement gaan daarna moet kyk om in die grade höer as die grondslagfase (gr. R tot gr. 3) in leerlinge se moedertaal aan te bied.

“ ’n Leerling doen byvoorbeeld al sy werk tot gr. 3 in Zoeloe en dan moet hy ewe skielik oorskakel na Engels. Dit werk nie.”

Volgens hom moet daar ook ’n kultuur geskep word van ouerbetrokkenheid wat ’n liefde vir leer en lees van ’n jong ouderdom by hulle kinders kweek.

Matakanye Matakanye, hoofsekretaris van die nasionale vereniging van skoolbeheerliggame.Foto: Argief

Matakanye Matakanye, hoofsekretaris van die nasionale vereniging van skoolbeheerliggame, sê gesamentlike en aanhoudende ondersteuning gaan leerlinge in die skool hou.

“Ouers, onderwysers, skoolbesture, die gemeenskap en skoolbeheerliggame moet saamstaan om soveel as moontlik ondersteuning aan leerlinge te bied om te sorg dat hulle matriek voltooi.”

Hy sê daar moet seker gemaak word dat die leerlinge die nodige gereedskap het om hul skoolloopbaan te voltooi.

Volgens hom moet die onderwysdepartement ook saam met die departement van gesondheid werk om leerlinge se maatskaplike probleme te pak.

“Leerlinge op skool is op ’n baie ongemaklike ouderdom en die hulp van opvoedkundige sielkundiges is soms baie nodig om te sorg dat leerlinge hul mikpunte behaal.”

Hy sê dis ook van kardinale belang dat hoogs gekwalifiseerde onderwysers in die grondslagfase aangestel word, want sodra “dinge in daardie fase vir leerlinge begin skeefloop, is dit verby”.

Die departement van basiese onderwys het nie teen druktyd gereageer op navrae oor hoe hy gaan sorg dat die uitvalsyfer so laag as moontlik bly nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.