Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Hý moet onderwys in Noordwes regruk

Die administrateur wat die nasionale ingryping in die onderwysdepartement van Noordwes sal lei, is Woensdag in Rustenburg aan senior amptenare van dié departement voorgestel.

Van links is Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, SM Semaswe, departementshoof, Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Mkhono Mohlala, pas aangewese administrateur van Noordwes se onderwysdepartement, en Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys. Die foto is Woensdag in Rustenburg geneem toe die minister Noordwes besoek het. Foto: Verskaf

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Nkhono Johannes Mohlala as die aangewese administrateur voorgestel wat dinge in dié departement nou moet regruk.

Die kabinet het in Mei vanjaar die eerste keer sedert 1994 besluit om ’n hele provinsie (Noordwes) onder nasionale administrasie te plaas, ná voortslepende en wydverspreide gewelddadige betogings in die provinsie oor endemiese diensleweringsprobleme, en opstand teen die vorige premier. Supra Mahumapelo het kort daarna as premier bedank.

Motshekga se besoek Woensdag aan Noordwes was luidens ’n mediaverklaring van haar departement deel van die nasionale ingryping in die provinsie. Die ontmoeting was by die Bojanala-distriksmunisipaliteit se kantoor in Rustenburg.

“Die ingryping in Noordwes se onderwysdepartement is spesifiek daarop gemik om die leer- en onderrigfunksie te stabiliseer omdat dit die departement se kernfunksie is,” het Elijah Mhlanga, departementele woordvoerder, gesê.

Hy sê Mohlala, die minister, Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, en ander senior amptenare van die departement het Woensdag vergader om die samewerking tussen die provinsie en die nasionale regering te formaliseer met die ondertekening van ’n dokument wat dié protokol uiteensit. “Hulle kan nou begin saamwerk om dienslewering in die provinsie te verbeter,” sê Mhlanga.

As administrateur sal Mohlala verantwoordelik wees vir strategiese beplanning en jaarlikse prestasieplanne van die provinsiale departement, en om toe te sien dat die departement die wetlike voorskrifte nakom. Hy sal ook vorderingsverslae oor die inwerkingstelling van die ingryping aan die minister moet verskaf.

Die art. 100 (1) (b)-ingryping behels onder meer:

* Aandag moet gegee word aan kwessies in die ouditeur-generaal (OG) se verslag oor die onderwysdepartement.

* Die departement se geld, begroting, verkrygingsprosedure en personeel moet goed bestuur word.

* Inligting van die departement moet akkuraat en betroubaar bestuur word.

* Die bestuur en aanbieding van kurrikulums moet beter in werking gestel, gemonitor en geëvalueer word.

* Infrastruktuur moet betyds aan skole voorsien word en die bestaande infrastruktuur moet in stand gehou word.

* Veilige skoolvervoer moet aan verdienstelike leerlinge verskaf word.

“Ons is vol vertroue dat die administrateur en sy span die volle ondersteuning van die (provinsie se) politieke leierskap, asook amptenare van die nasionale en provinsiale onderwysdepartement, het om hul werk doeltreffend te doen,” het Mhlanga gesê.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Noordwes  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.