Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Is Wes-Kaapse skole gereed om te heropen?

Hoewel sommige skoolhoofde in die Wes-Kaap sê hulle is gereed om hul skole te heropen, is daar steeds probleme met die aflewering van ontsmettingsmiddels en beveiligingstoerusting.

Maar selfs al moet die skool solank sy eie reinigingsmiddels gebruik, is die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch gretig om op 1 Junie te heropen.

“Die personeel mis mekaar, en ons mis veral die kinders,” sê Wilna van Heerden, die hoof, by navraag. Sy sê egter dit is nie vir skole moontlik om te voldoen aan die direktief van die nasionale departement van basiese onderwys nie. “Niemand (kan volgens die direktief gereed wees) nie, want die meeste skole het slegs ’n paar termometers of ’n 5-liter-Jik ontvang.”

Selfs al ontvang skole en koshuise die nodige ontsmettingsmiddels teen Vrydag, sê sy is daar nie genoeg tyd om die hele terrein voor Maandag – wanneer onderwysers veronderstel is om terug te keer skool toe – gereed te maak nie.

“Ons is in ’n bevoorregte posisie om genoeg reinigingsmiddels in voorraad te hê sodat ons solank kon begin, maar wat van al die ander skole? Ek is geweldig dankbaar teenoor Brian Schreuder (superintendent-generaal van die Wes-Kaapse onderwysdepartement – WKOD) en die SAOU (die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie) vir hul sterk leiding. Daarsonder sou ons in die duister gewees het.”

Willem Erwee, hoof van die departement van bemarking van die Hoër Jongenskool Paarl (links), saam met ’n ongeïdentifiseerde werknemer van ADT by die ADT-toegangsbeheerwa. Foto: Hoër Jongenskool Paarl

Derek Swart van die Hoër Jongenskool Paarl (HJS – Boishaai) sê by navraag ’n komitee is gestig, bekend as die “Kiempolisie/Hygiene team” wat die hele projek administreer. Die komitee het reeds verskeie keer te midde van die staat van inperking vergader.

Van die maatreëls wat hulle ingestel het, is beheerde enkel-toegang omdat besoekers nie op die terrein mag kom nie. Diegene wat wel mag, soos leerlinge en opvoeders, se koors word gemeet nadat elkeen reeds ’n pre-skoolopeningsvraelys volgens die HJS se siftingsplan voltooi het. Twee van HJS se beheerliggaamlede het ’n kursus wat deur die Drakenstein-subdistrikkantoor van die departement van gesondheid aangebied is oor sifting bygewoon en die skool se plan is hierop gegrond.

Gebiede wat gereeld besoek word, soos klasse, kantore, veral ontvangs, die biblioteek, personeelkamer en toilette, sal ontsmet word.

“Aangesien die koshuispersoneel ook verlede Woensdag teruggekeer het, is die koshuise ook besig om diep skoongemaak te word,” sê hy.

’n Gesondheidsinspekteur van die plaaslike distriksmunisipaliteit het die skool reeds besoek om die verskillende protokolle goed te keur. ’n Dokter besoek die skool later met dieselfde doel.

Elke matriekleerling ontvang twee geborgde HJS-gesigmaskers. “Ons dank ook aan WKOD vir die vyf termometers wat ons ontvang het,” sê hy.

Verder is daar handontsmettingstoestelle in elke lokaal en

terreindienspersoneel is verdriedubbel om seker te maak dat die seuns tydens pouse die voorgeskrewe veilige afstand handhaaf.

Middagsessies word vir matrieks gereël om te verseker dat almal so gou moontlik hul akademie onder die knie kry. Verder is ’n kosprojek van stapel gestuur om behoeftige Boishaai-gesinne by te staan.

’n Covid-19-kwarantyn-kennisgewing by die Hoër Jongenskool Paarl (HJS). Foto: Hoër Jongenskool Paarl

“Terwyl ons matrieks minder as 20% van ons leerlinge verteenwoordig, is die res van ons leerlinge en ouers onder toenemende druk met die reusebehoefte aan data wat ons aanlyn klasse aan hulle stel,” sê hy. “Daarom het ons voor ons skool ’n spesiale deurry-Wi-Fi-gerief geskep waar enige leerling sy huiswerk/klaswerk/take en verduidelikende video’s vir die week kan kom aflaai teen geen koste vir die huishouding nie.”

Louis Stöckigt, adjunkhoof van bemarking en kondisionering by die Hoërskool Brackenfell, sê by navraag hulle gaan dit beslis regkry om gereed te wees. “Ons stuur Dinsdag volledige kommunikasie na alle ouers en leerlinge oor presies wat gebeur, wanneer, prosedures ensovoorts.”

Sias Conradie, hoof van die Hoërskool D.F. Malan in Bellville, sê hulle doen al die moontlike om die skool gereed te kry volgens die riglyne wat hulle van WKOD ontvang het. “Ons sal gereed wees om die gr. 12’s te ontvang.”

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, (WKOD) , die aanvanklike  aflewering van Jik is vir die eerste aanvanklike skoonmaak. Daar sal meer aflewerings wees. 

Volgens haar is daar talle berigte ontvang van skole wat gereed is. Termometers is byna by elke skool afgelewer. Maskers is by elke distrikskantoor afgelewer waar dit deur skole afgehaal sal word, en dit is ook by skole afgelewer. Skole wat nog nie al die aflewerings ontvang het nie word gemonitor. 

Hou skole toe!

Die Facebookgroep “Parents against the opening of schools”, het binne 24 uur tot meer as 30 000 lede gegroei.

Die groep se stigter, Vanessa le Roux, sê by navraag hulle is van plan om ’n hofaansoek teen die opening van skole in te dien sodra dit deur die nasionale minister van onderwys in die Staatskoerant afgekondig word. Die groep het landwyd lede en hulle wil hul kinders se regte en lewens beskerm.

Icosa ‘gaan waghond wees’

Die politieke party die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) sê daar is baie onbeantwoorde vrae oor kinders en onderwysers se veiligheid by skole.

Volgens Icosa kan kinders nie vervang word as hulle sterf nie. Icosa sê hy gaan ’n waghond wees wanneer leerlinge terugkeer skool toe.

So maak Hoërskool Elsiesrivier

Luidens ’n brief van die Hoërskool Elsiesrivier aan ouers, word die skool sedert 11 Mei deurlopend ontsmet.

Luidens die brief sal skoonmaakpersoneel soggens voor skool oppervlakke ontsmet, asook gedurende pouses en ná skool.

Elke klaskamer sal van handontsmettingsmiddel voorsien word. Leerlinge moet dit gebruik voordat hulle die klaskamer binnekom en verlaat.

Meer oor:  Koronavirus  |  Inperking  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.