Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ja, haar tesis gaan oor die Gatsby-broodjie

Talle Kapenaars ken die gatsby as ’n heerlike lang broodrolletjie gevul met slaptjips, slaai, ’n sousie en polonie, hoender of bief.

Maar as jy weglê aan dié broodjie en sy hamburger-boetie, die Wembley Whopper, neem jy ook ’n hap uit ’n stukkie politieke geskiedenis van Kaapstad.

Tazneem Wentzel Foto: Verskaf

Tazneem Wentzel van Grassy Park het haar meestersgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal met die tesis “Producing and Consuming the Wembley Whopper and the Super Fisheries Gatsby: Bread Winners and Losers in Athlone, Cape Town, 1950-1980.

Dié mondvol is ’n blik op die verband tussen kos, plek en politiek in Athlone in die apartheidsjare.

“Ek kan net skryf oor dinge waarby ek aansluiting vind. Ek was nog altyd geïnteresseerd in hoe mense elke dag leef. Hoe mense ’n bestaan maak binne ’n omgewing van onderdrukking. Ek dink wat ons eet en hoe ons eet, is noodsaaklik vir voedselsekerheid, maar ook vir versoening en genesing,” sê sy.

Wentzel het onder meer gekyk na die uitwerking wat gedwonge verskuiwing onder die Groepsgebiedewet op kos gehad het.

“Kosmaak was ’n vorm van verteenwoordiging. Toe Distrik Ses tot ’n wit gebied verklaar is en mense na die Kaapse Vlakte verskuif is, is hul kosnetwerke afgebreek. Die verhouding tussen sake-eienaars en klante het drasties verander.

“Bure het mekaar nie meer geken nie, en die buitewyke van die stad was ’n onbekende en dikwels skrikwekkende plek. Net soos die mense hul huise en die lewe so goed as moontlik met die ‘oorblyfsels’ kon herbou het, het die gatsby ook ontstaan.”

Vir Wentzel is daar dus ’n ooreenkoms tussen die heropbouing van mense se lewens op die Kaapse Vlakte en die bestanddele van die gatsby, wat eintlik uit ’n samevoeging van “oorblyfsels” ontstaan het.

Die gatsby weerspieël wat baie mense tydens apartheid moes deurmaak en hoe hulle hul lewens moes herbou.
Tazneem Wentzel

Sy sê toe Rashad Panday van Super Fisheries destyds net slaptjips, polonie en atjar in sy winkel oorgehad het en dit in ’n broodjie gesit het, was hy verstom toe sy werkers dit geniet.

Hy het die gatsby aan sy klante bekend gestel en toe hy goeie terugvoer kry, het hy dit op sy spyskaart gesit.

’n Man met die naam Froggy het dit ’n “smash, oftewel ’n gatsby-smash genoem” en so het die naam ontstaan.

“Die gatsby weerspieël wat baie mense tydens apartheid moes deurmaak en hoe hulle hul lewens moes herbou.

“Ek het op die Athlone-gebied van 1950 tot 1970 gefokus, omdat dit die tuiste van baie politieke, kulturele en kreatiewe organisasies was.”

Binne dié raamwerk het sy die gatsby en die Whopper as deel van die argief gesien wat ’n geskiedenis vertel, wat ontstaan het uit nood en as gevolg van onderdrukking, maar uiteindelik ook ’n simbool is van die vryheid van keuse en samesyn.

Wentzel, wat tans by die Simonstad-museum werk, sê sy is nie seker of sy nou ’n doktorsgraad gaan aanpak nie. “Ek sal graag wil, maar ek wil ook by onderwys betrokke raak.”

Meer oor:  Athlone  |  Kaapstad  |  Gradeplegtigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.