Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Janné met 8 A’s byt vas en kry eindelik keuring vir medies
Janné Kleynhans wat verlede jaar aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer het. Met 8 A’s en ’n gemiddeld van 90% in matriek, het sy nou eindelik keuring vir mediese studies gekry. Foto: Valentina Photography

’n Vrystaatse toppresteerder wat met agt onderskeidings en ’n gemiddeld van 90% gematrikuleer het, is verheug dat sy uiteindelik vir medies gekeur is, sowat ’n dag nadat die laaste universiteit vir haar nee gesê het.

Janné Kleynhans, oudleerling aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, se moed was Donderdagoggend nog gebreek nadat die laaste universiteit waarby sy om medies aansoek gedoen het, haar ook afgekeur het.

Dié oggend het Janné se aansoekstatus by die Universiteit van die Vrystaat (UV) nog gewys sy is afgekeur, maar toe kry sy die middag die blye tyding per e-pos dat sy gekeur is. Sy het die skrywe drie keer gelees om seker te maak haar oë bedrieg haar nie.

Netwerk24 het vroeër die dag navraag gerig oor hoekom die uitblinker afgekeur is.

“Ek voel baie verlig, ek is ’n bietjie sprakeloos. Ek dink net dit wys as ’n mens regtig veg . . . want alles het gewys ek moet medies los.”

Die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit Stellenbosch is die ander universiteite waar sy vir medies afgekeur is.

Sy en haar ma, Erika, het e-posse aan die universiteite gerig vir heroorweging. Hulle wou selfs die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, vir oplossings nader.

Rudi, haar pa, het Woensdag ook op Facebook sy ongelukkigheid en onmag betuig omdat sy dogter oral afgekeur is.

Janné is onder die Vrystaatse top-100-leerlinge en was verlede Dinsdag by die provinsie se byeenkoms vir toppresteerders.

Dít was een van haar beste dae, sê sy. Dat sy een van die toppresteerders was, het haar moed gegee vir keuring.

“Ek het gedink daar is geen manier dat ek nie sal inkom nie.”

Die provinsie se toppresteerders kry elk ’n volle studiebeurs van die Vrystaatse regering.

“Met die stres oor finansies weg, was al wat ek moes doen net om in te kom.”

Janné se Plan B was om te begin met ’n BSc-graad, waarvoor sy by al vier universiteite gekeur is, en later na medies oor te skuif. Nou val dinge in plek.

Janné KleynhansFoto: Valentina Photography

* Lacea Loader, UV-woordvoerder, het by navraag gesê die universiteit kry jaarliks meer as 5 000 aansoeke vir medies, maar kan volgens die voorskrifte van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) slegs 180 eerstejaars inneem.

Loader sê die finale keuring vind plaas nadat matriekuitslae bekend is. Die keuringsproses word deur ’n keuringspaneel gekontroleer.

“Met die finale keuring word die finale uitslae van voorlopig gekeurde aansoekers bekragtig om hul keuse te finaliseer. Addisionele studente word gekies op grond van beskikbare plek weens kansellasies of studente wat keuring verbeur omdat hulle nie meer aan die vereistes vir voorlopige keuring voldoen nie.”

Volgens Loader oorskry die aantal aansoekers wat aan die vereistes voldoen jaarliks die aantal beskikbare plekke verreweg.

“Selfs aansoekers met uitsonderlike prestasies mag dalk nie gekies word nie, aangesien hulle laer af op die merietelys (gegrond op die algehele keuringspunt) kan wees as aansoekers met selfs beter akademiese prestasies.”

Meer oor:  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.