Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
JF se ‘beste span’ hou 50ste reünie

“Ek dink ons breek ons blerrie arms en bene as ons eers hardloop,” sê Héndré van der Walt laggend, kaptein van die onoorwonne eerste rugbyspan van 1968 van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein.

Lede van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein se 1968 eerste rugbyspan het by dié skool se 50-jaar-matriekreünie byeengekom. Hulle dra dié skool se 7’s-rugbytruie. Van links is Samuel Marais, Gawie Steyn, Héndré van der Walt (kaptein), André Coetzee, Piet Viljoen (onderkaptein), Jan Combrinck en Joe Ralph. Inlas: Johann Fourie (afrigter), Koos Verwey, Stef Botha, en Johan du Plessis.

Hy antwoord op die vraag of die manne van dié vooraanstaande span ná vyftig jaar weer die spel aangedurf het.

Dit was verlede naweek die skool se matriekreünie, waarby sewe spanlede op die skool se rugbyveld vir ’n foto gestaan het – in die skool se 7’s-rugbytruie, met ’n leer rugbybal in die hand, soos in die ou dae.

Van der Walt onthou nog hoe “onmoontlik” dit was om met dié bal in reën te speel – “hulle was ongelooflik glad gewees”.

Op die veld het Van der Walt “so twee skoppe gevat” en het hulle “die bal so ’n bietjie heen en weer vir mekaar gegooi”.

Destyds was die telling vir 1968 se 14 wedstryde 201-51 in hul guns, sê Hannes Kotze, ’n versamelaar van rugbygedenkwaardighede en -navorser van Bloemfontein, wat in 1975 aan die skool gematrikuleer het.

Kotze sê die span het daardie jaar sewe Vrystaat-Cravenweekspelers – Joe Ralph (heelagter), Johan Botha (vleuel), Eduard de Lange (senter), Héndré van der Walt (losskakel), Flip Botha (skrumskakel), Samuel Marais (agsteman) en Piet Viljoen (flank) – opgelewer, met André Coetzee (senter) wat in 1967 Vrystaat-Cravenweek gespeel het.

Dit is ook die eerste span van dié skool om Grey-kollege te klop, 14-5, sê hy.

Volgens Kotze het die twee spanne in 2006 gelykop gespeel en is dit die naaste wat hulle weer aan ’n oorwinning oor Grey-kollege gekom het.

Dit is alles redes waarom hy sê “die span van 1968 was die beste span wat die skool tot nog toe gehad het”.

Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein se ’68 eerste rugbyspan. Van links (voor): Johann Fourie (afrigter) Héndré van der Walt (kaptein), Piet du Plooy (skoolhoof), Piet Viljoen (onderkaptein) en Hennie Page (afrigter). Middel: Flippie Botha, Joe Ralph, André Coetzee, Johan du Plessis, Jan Combrinck, Koos Botha en Koos Verwey. Agter: Louis van der Walt, Samuel Marais, Stef Botha, Gawie Steyn, Eduard de Lange, Wrench de Villiers en Johan Botha.

“As jy dink jy het ’n goeie span, dan is die maatstaf om teen Grey te speel. Niemand wen sommer vir Grey nie,” sê Kotze.

Behalwe vir dié oorwinning, sê Van der Walt hulle het ook teruggedink aan die wedstryd waarin hulle vir die Hoërskool Sentraal ’n “goeie pak slae” gegee het. Hy onthou hoe hulle die heelagter “amper bang gespeel het, dat hy later byna nie meer bereid was om die bal te vang nie”.

Die kern van die ’68-span kom reeds van die 0/14- en o/15-span af, saam met een van hul afrigters, Johann Fourie.

Van der Walt sê Fourie het hulle geleer om vir mekaar, eerder as hulself, te speel.

Hulle was ’n skitterende span intelligente seuns.

“Dit was maar net genade, dit was ’n goeie klomp seuns gewees, mooi geluister, goeie spangees gehad,” sê Fourie (77) oor die groep se prestasies.

“Hulle was ’n skitterende span intelligente seuns.”

Fourie kon weens ander verpligtinge nie die samekoms vanuit Pretoria meemaak nie.

Koos Verwey en Stef Botha was jonger leerlinge en het nie die matriekreünie bygewoon nie. Louis van der Walt, Eduard de Lange, Wrench de Villiers, Flippie Botha, Hennie Page (afrigter) en Piet du Plooy (skoolhoof) is intussen oorlede.

Johan du Plessis was tydens die byeenkoms in die hospitaal en twee broers, Koos en Johan Botha van Despatch in die Oos-Kaap, kon nie opgespoor word nie.

“Dis asof daar iets in jou lewe, waarvan jy half heeltemal vergeet het, teruggesit word. Dit was eintlik ’n baie spesiale gevoel gewees,” sê van der Walt oor die samekoms.

Saamgestel deur Hannes Kotze.

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.