Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Jong ma vang graad ná talle terugslae

Ten spyte van ’n leergestremdheid, ’n angsversteuring, twee gewapende rooftogte, ’n baba én die feit dat sy van studierigting verander het, was Jessica Fouche vasbeslote om haar graad te kry.

En dié droom word vandeesweek bewaarheid wanneer sy die graad BCom Bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch ontvang.

Jessica Fouche het ten spyte van moeilike omstandighede haar graad BCom Bedryfsielkunde voltooi. Foto: Verskaf

Sy sê hoewel sy nie daarvan hou om oor haarself te praat nie, wil sy haar storie met ander deel om mense te help wat hulle in ’n soortgelyke situasie bevind. Sy sê dit is belangrik om hulp te vra.

Fouche, oorspronklik van Vanderbijlpark, het in 2014 as eerstejaar aan die US BRek begin studeer. Hoewel sy op skool goed gevaar het, kon sy net nie die mas opkom op universiteit nie.

Haar ouers het gemeen daar moet ’n ander rede hiervoor wees as die aanpassingsprobleme wat baie eerstejaars ervaar.

“Ek was toegewyd en ek het my bes gedoen, maar iets was nie reg nie,” sê sy.

Haar ouers het haar na ’n opvoedkundige sielkunde gestuur waar sy vir die eerste keer met ’n leergestremdheid gediagnoseer is. ’n Angsversteuring is ook later by haar gediagnoseer.

“Ek moes van vooraf reg begin leer. Dit neem vir my langer om inligting te verwerk en my korttermyngeheue is deur die angsversteuring aangetas.”

Fouche spot sy het ’n onberispelike tydbestuurder geraak.

In 2016 het sy van studierigting verander. Sy het vir psigometriese toetse gegaan en besluit om bedryfsielkunde te studeer.

Sy het minder vakke en meer tyd gehad en het haar toe by die bedryfsielkundevereniging aangesluit, waarvan sy later die voorsitter geword het. Sy het ook in die studenteraad vir ekonomiese en bestuurswetenskappe gedien.

In haar eerste én haar tweede jaar was sy die slagoffer van ’n gewapende rooftog. Fouche sê die voorvalle kon baie erger gewees het en gelukkig is niemand ernstig beseer nie.

Vra vir hulp, ’n mens sal verbaas wees hoe baie mense jou ondersteun en probeer help as jy net vra.

Sy het aan die einde van haar vierde jaar swanger geraak en hoewel die meeste van haar medestudente en lektore baie ondersteunend was, was daar ook diegene wat nie in haar vreugde gedeel het nie. Sy en haar man is in Januarie 2018 getroud.

Sy het in die twee rade gedien selfs nadat haar seun, Levi-Jude, in Julie verlede jaar gebore is.

“Vra vir hulp, ’n mens sal verbaas wees hoe baie mense jou ondersteun en probeer help as jy net vra. As dit nie vir diegene was wat my gehelp het nie, sou ek dalk nie my studies voltooi het nie,” sê sy.

Volgens haar het baie studente soortgelyke ervarings, maar is te bang om daaroor te praat. Hulle skep dus ’n moeilike atmosfeer waar daar nie oor swakhede en mislukking gepraat mag word nie.

“Vra vir hulp en hou aan probeer,” is haar raad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.