Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kaapse laerskool wys Afrikaans die deur
Foto ter illustrasie. Foto: Ewald Stander

Die ouers van voornemende Afrikaanse gr.1-leerlinge aan die Laerskool Monte Vista in Kaapstad is ontsteld nadat hulle in kennis gestel is dat dié skool in 2017 ’n Engelse skool word.

’n Brief van die beheerliggaam aan voornemende gr.1-leerlinge se ouers lui dat die skool besluit het om van parallelmedium na enkelmedium oor te slaan weens ’n dalende aantal aansoeke van Afrikaanse leerlinge.

“Die beheerliggaam van die Laerskool Monte Vista het besluit om die skool se status as parallelmediumskool te verander na ’n enkelmediumskool. Dit beteken dat onderrig slegs in een amptelike taal plaasvind, naamlik Engels. Die Afrikaanse been van die skool sal met natuurlike verloop uitgefaseer word,” lui die brief.

Zaneta Burger, ’n ouer van die skool wat Woensdag in kennis gestel is dat haar gr. R-kind om dié rede nie plek in die skool gekry het nie, het gesê dit laat voornemende ouers nou in ’n moeilike posisie.

“Ons moes al in Maart aansoek doen en nou is al die skole in die omgewing vol,” het sy gesê.

“Die Laerskool Panorama het reeds ’n waglys gehad, wat nou nog langer is. Dis net teleurstellend dat hulle nie lankal met ons oor hul plan om Afrikaanse klasse te beëindig gekommunikeer het nie.”

Dean Pretorius, voorsitter van die beheerliggaam, het gesê dié besluit is geheel en al op getalle gegrond.

“Dit het niks met taal te doen nie,” het hy gesê.

“Die skool kan dit eenvoudig nie meer regverdig dat die Engelse been met vol klasse sit en aansoeke moet wegwys terwyl daar baie plek in die Afrikaanse been van die skool is nie.”

Monte Vista het tans sowat 800 leerlinge, waarvan minder as ’n kwart onderrig in Afrikaans verkies.

Pretorius het gesê briewe is voorlopig aan voornemende gr. 1-ouers uitgestuur en die beheerliggaam sal Donderdagaand weer oor die besluit vergader.

Hy is ook met ander Afrikaanse skole in die omgewing in gesprek om te kyk waar leerlinge moontlik ingeneem kan word.

“Die skool sal parallelmedium bly totdat die laaste Afrikaanse leerling die skool verlaat het. Dit sal uiteraard ’n paar jaar duur,” het hy gesê.

Meer oor:  Kaapstad  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.