Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kaapse skole sê oor eise dat hul name verander

Van die skole waarop die Wes-Kaapse ANC aandring se name verander moet word, het dit oorweeg en toe van die hand gewys.

Skoolhoofde het benadruk dat transformasie ’n prioriteit bly en die besluit oor die verandering van ’n skool se naam bly in die hande van die beheerliggaam.

Dit volg nadat die ANC Woensdag in ’n verklaring geëis het dat die provinsiale departement van onderwys (WKOD) leiding neem met die verandering van skoolname uit die apartheidsera en sê dié name druis in teen die Grondwet.

In die verklaring word name soos die Hoërskool Jan van Riebeeck, die Hoërskool D.F. Malan, Rhodes High School en die Hoërskool Eben Dönges genoem wat die ANC beskou as die “voortsetting van ’n spesifieke geskiedenis waar enigiets swart en van Afrika as onbenullig en van geen historiese waarde nie beskou is en die argitekte van apartheid en kolonialisme as helde van ons nasie vereer word”.

Die Hoërskool D.F. Malan in Bellville, Kaapstad.Foto: Wikipedia (Barry Ne)

Die WKOD sê hy kan skole nie dwing om hul name te verander nie en die proses moet deur die beheerliggaam gevolg word.

Sias Conradie, hoof van die Hoërskool D.F. Malan in Bellville, het die middag bevestig dat daar al in die verlede navrae oor die naam was en dat die beheerliggaam bevind het dat dit nie nodig is om dit te verander nie.

Volgens Conradie is die skool “ten volle getransformeer” en leef hy sy missie, om wêreldklas-opvoeding aan alle leerlinge te verskaf, ten volle uit.

Dié skool is in 1954 gestig en genoem na die destydse eerste minister, dr. D.F. Malan, wat ook self die hoeksteen van die skoolgebou in 1956 gelê het, luidens die skool se webwerf.

Malan was van 1948 tot 1954 eerste minister onder die Nasionale Party (NP) en het voorheen as dominee in die NG Kerk en as redakteur van Die Burger gedien. Hy word beskou as een van die leiers wat destyds die grondslag vir apartheid gelê het.

Gawie Yssel, voorsitter van die beheerliggaam van die Hoërskool Jan van Riebeeck, sê geen klagtes oor die skool se naam is in sy vier jaar by die beheerliggaam ontvang nie en die verandering van die naam word nie oorweeg nie.

“Nou dat dit in die media genoem word, sal ons dit wel oorweeg en op die agenda vir die volgende vergadering plaas.”

Dié hoërskool in Tuine is in 1926 geopen en die naam is in 1927 aanvaar.

Van Riebeeck, ’n Hollandse seevaarder, het in 1652 in die Kaap aangekom en ’n halfwegstasie vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) gevestig in wat nou as Kaapstad bekend staan.

Sias Conradie, hoof van die Hoërskool D.F. Malan in Kaapstad.Foto: Verskaf
Debbie Schäfer, LUR vir onderwys.Foto: Deon Raath

Keith Long, hoof van die Rhodes High School in Mowbray, het ook bevestig dat die skool se beheerliggaam drie keer al voorstelle ontvang het om die naam te verander en dit twee keer van die hand gewys het.

Die beheerliggaam oorweeg tans ’n voorstel om die naam te verander en ondersoek die kwessie verder.

Long sê indien daar bevind word dat die naam moet verander, sal hy dit steun.

“By enige skool moet transformasie ’n prioriteit wees en die skool is ’n voorbeeld daarvan. Dit sal tragies wees as die naam afbreuk daaraan sal doen.”

Volgens Long beteken dit nie dat die skool ’n “volkome sukses” van transformasie gemaak het nie, “maar ons werk hard daaraan en dit is bo-aan die agenda”.

Vorige navorsing oor die skool se naam het glo daarop gedui dat dit nie noodwendig na Cecil John Rhodes genoem is nie, maar moontlik vanweë die uitsig oor die Rhodes-gedenkteken.

Die skool is in 1978 gestig met die samesmelting van Observatory Boys High en Observatory Girls High.

Rhodes was ’n Britse mynmagnaat en aartsimperialis.

Die Hoërskool Eben Dönges in Kraaifontein is genoem na ’n voormalige minister onder die NP-bewind. Hy is verkies tot president, maar is in 1968 dood voordat hy in die amp beëdig is.

Die skoolhoof was teen druktyd nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Jessica Shelver, woordvoerder van Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, sê die regstel van die ongeregtighede van die verlede is belangrik vir die provinsiale regering, “omdat ons steeds sit met die nalatenskap van apartheid wat mense uitgesluit laat voel, selfs in ons skoolstelsel”.

D.F. Malan, voormalige eerste minister van Suid-Afrika.Foto: Argief (Rapport)
’n Portret van Jan van Riebeeck.Foto: Getty
Cecil John RhodesFoto: Argief

Schäfer het in haar begrotingstoespraak in 2015 ’n beroep gedoen op enige skool wat meen dat sy naam steeds die apartheidsbestel verteenwoordig, om aansoek te doen by die WKOD om dit na ’n inklusiewe naam te verander.

“Die WKOD kan nie ’n skool dwing om sy naam te verander nie – dit is heeltemal die besluit van die beheerliggaam wat die skoolgemeenskap verteenwoordig. As enigiemand ’n skool se naam aanstootlik vind, moet hulle die beheerliggaam nader om die vereiste proses te volg om dit te wysig.”

Shelver het later ook daarop gewys dat daar skole in ander provinsies onder ANC-bewind is wat ook na apartheidsleiers genoem en nog nie verander is nie.

Luidens die ANC se verklaring vind hy die skoolname uit die apartheidsera onaanvaarbaar en “druis dit in teen ons Grondwet, wat na ’n skoon breuk met ons lelike en afskuwelike verlede strewe”.

Volgens die ANC in die Wes-Kaap is die name uit die apartheidsera “kragtige simbole” en wil hy ’n duidelike tydlyn by die WKOD vir die verwydering van dié simbole kry.

“Ons neem kennis daarvan dat die WKOD die belangrike taak van naamveranderings aan die skole oorlaat onder die voorwendsel dat dit demokraties is – net nog ’n voorbeeld dat die DA geen aptyt het om te regeer nie, veral nie op maniere wat die koloniale en apartheidsbedeling ontwrig nie.”

Luidens die verklaring sal die Wes-Kaapse ANC hom tot die howe wend as die provinsiale regering hom nie daartoe verbind om skole se name te verander nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.