Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kaapse studente vaar ook strate in

“Ons is in solidariteit met Wits en alle ander inrigtings. Hul stryd is ook ons s’n.”

Dít het Declan Dyer, president van die Universiteit van Kaapstad (UK) se studenteraad (SR), Donderdag gesê op ’n massavergadering van gegriefde studente, wat meen dat hul griewe op dowe ore val.

Die studente het Vrydagoggend buite die kampus betoog.

universiteit, betoging, UK
Betogende studente van die Universiteit van Kaapstad eis dat hul studieskuld afgeskryf word. Foto: Jaco Marais

Dít kom nadat Wits-studente Woensdag Johannesburg se strate ingevaar en geëis het dat die registrasie vir vanjaar se akademiese jaar voortgaan, ongeag (historiese) skuld wat nog agterstallig is.

Volgens Wits se SR was 8 142 studente se verdere studie in die gedrang toe die akademiese jaar begin het. Die getal Wits-studente wat nou deur finansiële uitsluiting in die gesig gestaar word, staan op 6 332.

Studente van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) betoog Woensdag in Braamfontein. Foto: Gallo Images

Volgens die UK se SR is hy sedert Desember met die universiteit in gesprek oor die studente se finansiële posisie, berig News24.

Duisende UK-studente het op die universiteit se Graca Lawns byeengekom.

Volgens die SR kan sowat 2 500 studente finansieel uitgesluit word as gevolg van ’n gekombineerde skuldlas van meer as R115 miljoen.

Teen Donderdag het die SR nog nie terugvoering van die universiteit se bestuur ontvang nie.

“Ons wil hê die universiteit moet ons teenwoordigheid voel en voel hoe kwaad ons is. Ons gaan ná die vergadering uitsluitsel kry en ons sal dat die studente leiding gee oor wat gedoen moet word.”

Dyer het gesê indien die studente besluit om die UK toe te maak sal hulle op dié besluit ag slaan.

Declan Dyer, studente betoog, UK
Studente van die Universiteit van Kaapstad betoog Vrydagoggend. Foto: Jaco Marais

Die UK se SR eis ook die kop van Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap, en tegnologie.

“Ons het lankal vertroue verloor in sy vermoë om in die beste belang van die studente op te tree en ons kan nie blootgestel word aan iemand wat teen die studente is nie.”

Elijah Moholola, UK se woordvoerder, het gesê die begroting wat die UK se raad in 2020 goedgekeur het, moes drasties gesny word.

“Ten spyte van die finansiële druk en druk uit ander oorde, het die UK ’n beperkte bedrag beskikbaar gestel om studente te help wat agterstallige skuld in 2020 se akademiese jaar het en die risiko loop om uitgesluit te word.

“Die universiteit se geld is beperk. Slegs dié studente wat aan die voorgeskrewe kriteria voldoen, sal vir bystand oorweeg word,” het hy gesê.

*Intussen het die hooggeregshof in Pretoria Donderdag ’n besluit deur Nzimande om die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se aantal nuwe studente te besnoei tersyde gestel.

Ingevolge dié besluit het Unisa slegs 38 000 eerstejaarstudente laat registreer, wat sowat 20 000 minder was as wat voorsien is.

Die EFF se Student Command het die saak teen Nzimande met die steun van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK), wat ’n vriend van die hof tot die saak toegetree het, aanhangig gemaak.

Die EFF het in ’n verklaring die hof se besluit as ’n oorwinning bestempel omdat die uitsluiting van die 20 000 studente duisende jong mense tot werkloosheid en misdaad gedryf het.

Die MRK is van mening dat Nzimande se besluit strydig is met die reg van Suid-Afrikaners om verder te studeer.

Meer oor:  Blade Nzimande  |  Wits  |  Doodgeskiet  |  Nsfas  |  Studentebetogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.