Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kalender ‘so goed ons kon hoop’, maar druk op onnies ‘onmenslik’

Die voorgestelde nuwe skoolkalender is “onder die omstandighede so goed as wat ’n mens kon hoop”.

Daar is egter kritiek oor die druk wat dit op onderwysers plaas, dat sommige rolspelers nie behoorlik geraadpleeg is nie en oor “irrasionele” besluite oor wanneer watter grade gaan terugkeer skool toe.

Dít was Sondag die reaksie van verskillende rolspelers in onderwyskringe nadat die departement van basiese onderwys Saterdag die hersiende skoolkalender in ’n mediaverklaring bekend gemaak het. Hiervolgens sal alle leerlinge op 24 Augustus terugkeer skool toe, met die uitsondering van gr. 12- en gr. 7-leerlinge wat onderskeidelik op 3 en 10 Augustus terugkeer. Die skooljaar eindig op 15 Desember.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie. Foto: Carla Lewis

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê dié organisasie is dankbaar dat die owerheid na hulle geluister het om die skooljaar nie na volgende jaar te laat oorloop nie. “Ons moet aanvaar die koronavirus-pandemie het ’n invloed op alle samelewingsvlakke. Die nuwe kalender is so goed soos waarvoor ons onder dié omstandighede kon hoop.”

Klopper glo die kalender is ook voldoende om te verseker dat openbare skole wat weens gebrekkige veiligheidsmaatreëls hul leerlinge eers later as skole met beter hulpbronne kan ontvang, wel teen 15 Desember die kurrikulum sal kan voltooi.

“Skole wat vroeër meer leerlinge kan ontvang, sal bloot vroeër klaarmaak.”

Nomusa Cembi, woordvoerder van die South African Democratic Teachers Union (Sadtu), sê hulle is bekommerd oor die “onmenslike druk” wat die nuwe kalender op veral gr. 12-onderwysers plaas.

“Die departement van basiese onderwys is meer begaan oor die skoolkalender as die geestesgesondheid van hierdie onderwysers wat nou regdeur moet werk. Hulle sal steeds in die Oktobervakansie voorbereiding moet doen. Die onderwysers sal in Januarie (2021) net drie dae ná die merk van die matriekvraestelle weer moet begin werk.”

Cembi bevraagteken ook of alle skole gereed is om al die grade teen 24 Augustus te ontvang en ’n voldoende afstand te handhaaf. “Skole wat nie gereed is wat die beskermingsmaatreëls betref nie, moenie toegelaat word om te open nie. Ongelykhede (tussen skole en gemeenskappe) sal net vererger indien sommige skole vroeër as ander open.”

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die mediaverklaring oor die nuwe skoolkalender “beteken niks” voordat die direktiewe in die Staatskoerant gepubliseer is nie. “Die departement het ons eers Vrydag hieroor genader. Ons is nie tevrede dat ons voldoende geraadpleeg is nie.”

Die departement van basiese onderwys is meer begaan oor die skoolkalender as die geestesgesondheid van hierdie onderwysers wat nou regdeur moet werk.

Colditz meen sommige van die departement se besluite oor wanneer watter grade kan terugkeer, is “irrasioneel”.

“Dit sou meer sin maak dat die gr. 9- eerder as gr. 7-leerlinge vroeër terugkeer omdat gr. 9 ’n uitgangsfase is. Dis kommerwekkend dat gr. 1’s nie vroeër kon terugkeer nie. Dis in hierdie grondslagfase noodsaaklik dat skryf-, lees- en rekenvaardighede by herhaling ingeprent moet word. Hierdie kinders gaan al vanaf Maart nie skool nie. Onderwysers sal nou van voor af moet begin om hulle te leer lees en skryf. Dít terwyl reeds wetenskaplik bewys is dat kinders van hierdie ouderdom baie minder vatbaar vir die koronavirus is.”

Colditz sê te midde van alles het baie skole reeds ten volle vir alle grade heropen omdat die vorige direktiewe wat in Junie uitgereik is, daarvoor voorsiening gemaak het dat skole wat gereed is vroeër ten volle mag funksioneer.

Louis Jacobs, direkteur van korporatiewe kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die universiteit vergader die komende week om die universiteitskalender te finaliseer in die lig van die hersiende skoolkalender.

“Ons sal waarskynlik op twee datums vir die begin van die akademiese jaar besluit: Senior studente sal (in 2021) vroeër begin as eerstejaars. Ons aansoeke vir eerstejaars sluit op 30 September vanjaar. Die toelatingsproses is altyd voorlopig en onderhewig aan die matriekuitslae. Ons voorsien geen probleem om die finale toelating net aan te skuif met die latere bekendmaking van die matriekuitslae nie. Dis ook heeltemal haalbaar om die kurrikulum vir ons studente effe aan te pas sodat hulle die akademiese jaar teen einde 2021 sal kan voltooi.”

Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch, sê dié universiteit gaan ook steeds die matriekresultate gebruik vir finale aanbiedings en uiteindelike registrasie.

“Ons het reeds begin om aanpassings aan die 2021- akademiese kalender te oorweeg om die moontlike latere beskikbaarstelling van die matriekresultate te akkommodeer. Ons voorsien dat die akademiese jaar vir eerstejaars in Maart sal kan begin, maar dat seniors vroeër sal kan registreer en begin. Tyd vir eerstejaars sal opgemaak word deur aanpassings in die administratiewe prosesse, verwelkomingsprogram en vakansies. Geen inkorting van akademiese tyd word beplan nie.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het Sondag gesê die aangepaste kalender sal vroeg volgende week in die Staatskoerant gepubliseer word. “Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal spesifieke direktiewe en gepaardgaande riglyne oor verskeie kwessies volgende week bekend maak. Die direktiewe is onderhewig aan gesprekvoering en wetlike evaluering.”

KASSIE:

Só lyk die hersiende kalender.

’n Kort vakansie van 26 tot 30 Oktober vanjaar is ingeruim. Die skooljaar sal op 15 Desember eindig vir gr. R- tot gr. 11-leerlinge. Die matriekeindeksamen sal ook op 15 Desember afgehandel wees. Die matriekvraestelle sal tot 22 Januarie gemerk word, waarna die uitslae op 23 Februarie bekend gemaak sal word. Die 2021-skooljaar sal op 25 Januarie vir onderwysers begin en ’n paar dae later vir leerlinge.

Meer oor:  Chris Klopper  |  Paul Colditz  |  Covid-19  |  Onderwyser  |  Skole  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.