Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Katastrofies’: 65% se onderwystyd het al verlore gegaan

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sê 65% se onderwystyd het al as gevolg van die roterende rooster wat skole weens die Covid-19-pandemie volg, verlore gegaan.

Sy het Saterdagoggend ’n nuuskonferensie toegespreek en die situasie as katastrofies beskryf, veral die

uitwerking op die grondslagfase.

Hoërskole sal nog onbepaald van ’n roterende rooster gebruik maak, al is die plan dat laerskole wat aan die Covid-19-maatreëls voldoen op 2 Augustus na volle kapasiteit mag terugkeer.

Dit sal die eerste keer wees dat alle laerskoolkinders elke dag skool toe mag gaan sedert die inperkingsmaatreëls verlede Maart ingestel is.

Sommige skole het byna 2 000 leerlinge, dus kon almal nie elke dag skoolgaan nie, sê Motshekga.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, praat Saterdag op ’n mediakonferensie oor die heropening van skole. Foto: GCIS

“Die gesondheid en veiligheid van leerlinge kom eerste, maar die gevolge van Covid-19 is verwoestend.”

Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê egter hoewel die uitwerking van Covid-19 op die geleerdheid van leerlinge drasties van skool tot skool verskil, moet die departement beter verduidelik waarom álle hoërskole nie ook na “normaal” kan terugkeer nie.

Motshekga het ook Saterdag bevestig skole is gereed om Maandag te heropen, hoewel pres. Cyril Ramaphosa die laaste sê sal hê wanneer hy die land Sondag oor die jongste inperkingsmaatreëls toespreek.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, meen die minister het dit op die mediakonferensie laat lyk of “Suid-Afrika ’n Eerstewêreldland is”, omdat sy nie genoeg oor die uitdagings gepraat het nie.

Simone Geyer, adjunk-direkteur-generaal van die departement, het gesê skole en provinsies is in verskillende stadiums van gereedheid om leerlinge Maandag ná afloop van die wintervakansie terug te verwelkom.

Daar sal gefokus word op maatreëls soos die verskaffing van water en maskers aan skole en die handhawing van ’n gesonde afstand.

Meer as 47 000 mense is aangestel om siftings by skole te doen voordat leerlinge en personeel tot die skoolterrein toegelaat word. Termometers is aan alle skole verskaf.

Motshekga het bekend gemaak sowat 517 000 werkers in die onderwyssektor is ingevolge die sektorale benadering van die nasionale inentingsprogram ingeënt.

Die mikpunt was om 582 564 onderwysers en ander personeel in te ent en dus is 89% van mense ingeënt.

Meer oor:  Rotasie  |  Koronavirus  |  Onderwys  |  Covid-19  |  Skole  |  Rooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.