’n Gr. 4-leerling is die afgelope week geskors nadat hy glo ’n onderwyseres in klastyd met ’n penneblikkie in die gesig gegooi het.

Die onderwyseres Betty Mbele is bebloed nadat ’n leerling haar Dinsdag met ’n pennesakkie in die gesig gegooi het. Foto: Steve Mabona, Twitter
Netwerk24Foto: Steve Mabona, Twitter
“Dit is betreurenswaardig en ’n verleentheid dat ’n leerling iemand wat hom moet onderrig, beseer,” het Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, Vrydag gesê.
Mabona het ná die voorval ’n foto van die bebloede onderwyseres op sy Twitter-blad geplaas.
Volgens hom het die voorval op 5 November in die Sakhile Primary School in Heidelberg gebeur. Die onderwyseres, Betty Mbele, is behandel en dieselfde dag ontslaan.
“Die leerling het ná die voorval weggehardloop, maar weer later sy opwagting by die skool gemaak. Hy is intussen met onmiddellike ingang geskors. Daar is met sy ouers ooreengekom dat hy toegelaat sal word om sy eksamen te voltooi. ’n Tugverhoor sal op 20 November plaasvind,” het Mabona gesê.
“Leerlinge wat ongedissiplineerd is, sal kortgevat word. ’n Skool behoort altyd bevorderlik vir onderrig te wees. Die polisie is na die skool ontbied, maar die aangeleentheid word deur die skoolbeheerliggaam hanteer,” het Mabona gesê.
Vusi Sibanyoni, skoolhoof, wou nie Vrydag kommentaar lewer nie. “Die nodige tugproses sal gevolg word,” het hy gesê.