Die man wat kinders by ’n skool in Limpopo geklap het en in ’n video verskyn wat opslae op sosiale media maak, is in der waarheid die skoolhoof.
Sam Makondo, woordvoerder van die departement van onderwys in Limpopo, het Woensdag bevestig dat ’n ondersoek vasgestel het dat M.L. Maesela, hoof van die Bopedi Bapedi Technical High School in die Ngwaritsi-streek, die kinders geklap het.
Makondo het gesê hy kan nie sê of die skoolhoof intussen bedank het nie.
Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, sê volgens sy inligting het die skoolhoof bedank.
Makondo sê ’n hoëvlak-ondersoek is na die voorval begin. “Laat asseblief die departement toe om ons interne ondersoek af te handel.”
In die video kan gesien word hoe die onderwyser leerlinge in ’n ry voor ’n swartbord in ’n klaskamer laat verbyloop en elkeen ’n klap teen die kop gee.
Daar kan gehoor word hoe leerlinge in die klaskamer skree en daar is sommige wat ook lag.
Die onderwyser klap seuns en meisies. Een van die leerlinge het met ’n selfoon ’n video van die voorval geneem.
Smalle eis dat die skoolhoof strafregtelik vervolg moet word.
“Dit is nie genoeg dat hy glo bedank het nie. Die kinders se basiese regte is geskend deur sy optrede. Dit is onaanvaarbaar dat lyfstraf as ’n vorm van dissipline gebruik word, dit is teen die wet.”
Smalle het Polly Boshielo, LUR vir onderwys in Limpopo, geloof vir haar vinnige optrede om ’n ondersoek na die voorval te begin.
“Ons wil egter hê die LUR moet dit duidelik aan skoolhoofde en onderwysers stel dat lyfstraf teen die wet is en dit onaanvaarbaar is dat so iets gebeur.”
Smalle sê die nagevolge van lyfstraf op kinders is verreikend. “Die leerlinge moet ook berading ontvang ná die voorval.”
Makondo kon nie sê of die leerlinge al berading ontvang het nie.