Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kinders nié vry van seksvoorligting nie
Van die vals inligting wat die ronde doen as inligting vervat in die departement se kurrikulum vir seksvoorligting.

Die minister van basiese onderwys het kinders nié vrygespreek van seksvoorligting nie.

Angie Motshekga het in die parlementêre antwoord oor Comprehensive Sexuality Education- (CSE) (seksvoorligting-kurrikulum) gesê ouers kan kies om aan die CSE te onttrek.

Die aangepaste kurrikulum sal van 2020 af verpligtend wees vir leerlinge van gr. 4 tot gr. 12.

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die minister bedoel nie kinders kan nou seksvoorligting ontduik nie, maar onderwysers kan die voorgeskrewe leermateriaal se aanbieding aanpas of versag vir ’n betrokke skool of gemeenskap in soverre dit steeds aan die kurrikulum se vereistes voldoen.

“Ingevolge art. 6A van die Skolewet moet die minister ’n kurrikulum voorskryf wat minimum standaarde en uitkomste, asook standaarde vir assessering, daarstel. ’n Kind moet aan die einde van ’n gr. 1-jaar byvoorbeeld weet een en een is twee. Hoe hy daarby uitkom, is die skool se saak. Die departement kan egter nie ’n lesplan aan onderwysers opdwing nie. Dít sal teen die wet wees.”

Daarom sê die minister die voorwaarde vir “uittrede” is dat ouers alternatiewe leermateriaal moet voorstel, wat aan die Caps-skoolkurrikulum se kriteria vir aanvaarding voldoen.

Matakanye Matakanya, hoofsekretaris van die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame (NASGB), sê hulle is geneë om ’n nuwe lesplan te ontwikkel, maar vra die departement moet dit befonds.

“Ons sal fokus op gesondheidsopvoeding, nie seksopvoeding nie. As deel van gesondheid sal ons praat oor liggaamsontwikkeling en die vraag: Hoe sien jy om na jou liggaam? Wat is sleg vir jou liggaam? Sodoende kombineer ons inligting oor seks met gesondheid en in ooreenstemming met die grade waarin die kinders is.”

Hy sê die NASGB sal gesondheids-, sielkunde- en maatskaplike kenners intrek.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê hy is dankbaar oor die antwoord oor alternatiewe lesmateriaal.

“Die kurrikulum is nie nuut nie, maar ons het nie saamgestem met die herinterpretasie van die kurrikulum en die nuwe ‘skoktaktiek’ en aangepaste leermateriaal wat hulle wou afdwing nie,” sê die uitvoerende hoof, Chris Klopper.

Nuwe lesplanne is nie so maklik nie . . .

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysersvakbond Naptosa, sê die minister se reaksie is “sinloos”, want “dis nie die realiteit van hoe dit in ’n skool werk nie”.

“As jy vyf, tien of 20 kinders het wat onttrek het, waarheen gaan hulle? Ek was vir 20 jaar lank skoolhoof van ’n laerskool. Jy kan kinders nie net alleen laat nie. Vir eers ontwrig hulle ander kinders en tweedens, wat as hulle seerkry?”

Oor die alternatiewe lesmateriaal, vra Manuel: “Wie gaan dit aanbied, waar en wanneer? Skole het nie sulke infrastruktuur nie . . .”

‘Ons is nie gekonsulteer nie’

Nie die NASGB óf die vakbonde Naptosa, die SAOU met sy 20 000 lede óf die Nasionale Raadplegende Forum is blykbaar deur die onderwysdepartement geraadpleeg nie, hoewel die minister se geskrewe antwoord sê belanghebbendes op nasionale, provinsiale, geloofs- en ander vlakke is gekonsulteer.

Matakanya sê: “Die departement het nie gesê wat presies hulle met ons kinders gaan doen nie. Ons het daarvan gelees in die media.”

Motshekga noem die Nasionale Raadplegende Forum (NRF) van die departement op sy naam as ’n plek “waar die CSE-programme voortdurende bespreek word”.

Colditz, wat die NRF in 1998 op die been gebring het, vergader elke kwartaal saam en sê die CSE is inderdaad nooit met die NRF bespreek nie.

Hy sê die belanghebbendes is op 5 Junie, nadat die eerste bom oor CSE gebars het, gerus gestel, nadat hy (Colditz) die saak op die agenda laat plaas het.

“Die departement het gesê hy werk daaraan, dis gegrond op internasionale navorsing en hy tree met verantwoordelikheid op. Ons het gewag dat hulle op ’n dag met die leermateriaal by ons gaan aankom, maar dit het nooit gebeur nie.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, het uitstel tot Woensdagoggend gevra om op Netwerk24 se navrae te reageer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.