Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Kinders verplig tot 2 jaar voor gr. 1

Diep gebêre in pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand was ’n aankondiging wat deur ’n onderwyskenner as ’n “stap in die regte rigting” beskryf word – maar wat meer as R10 miljard kan kos.

Ramaphosa het bekend gemaak dat die departement van basiese onderwys, eerder as die departement van maatskaplike ontwikkeling, voorts verantwoordelik sal wees vir die land se program vir vroeë kinderontwikkeling (VKO), oftewel grondslagfaseonderrig.

Die regering mik ook om dit verpligtend te maak dat elke kind vir twee jaar voor gr. 1 by die VKO-program inskakel, wat sal beteken dat kinders op vyfjarige ouderdom deel van die formele skoolstelsel sal word.

‘Die fondament moet reg wees.’

Ramaphosa het gesê meer as 700 000 kinders het die afgelope jaar toegang gehad tot VKO-onderwys. VKO-onderwys behels tans gr. R tot gr. 3. Gr. R is dus reeds deel van die departement van basiese onderwys (DBO) en die formele skoolstelsel.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, sê niemand betwyfel die waarde van voorskoolse onderwys nie, maar die koste-implikasie van dié skuif gaan enorm wees.

Sowat 12 miljoen kinders gaan tans skool. “Dis ongeveer ’n miljoen per graad. Veronderstel daar is dus nou ’n miljoen kinders ekstra (gr. RR). As daar gemiddeld 30 kinders per klas gaan wees, beteken dit meer as 33 000 nuwe klaskamers en 33 000 nuut opgeleide onderwysers.’’ Teen ’n beginsalaris van sowat R290 000 per jaar vir ’n nuwelingonderwyser kan salarisse alleen R9,5 miljard beloop.

Klopper sê ook daar is gewoon nie soveel opgeleide leerkragte nie. Klaskamers moet ook gebou word. “As jy ’n goedkoop klaskamer bou teen R8 000, sal 33 000 nuwe klaskamers R264 miljoen kos. As die begroting van maatskaplike ontwikkeling wat gaan oorskuif nie dié begroting gaan verreken nie, gaan dit die res van die onderwysstelsel baie negatief beïnvloed.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys (DBO), sê Ramaphosa se aankondiging beteken die hele VKO-funksie, sy begroting en sy mense skuif oor na die DBO. Hy besef geld gaan kortkom.

“Daar is nooit groot genoeg begrotings vir onderwysdienste nie. Ons moet seker maak ons is doeltreffend in die gebruik van ons finansiële hulpbronne.”

Sowat R1,3 miljard is verlede jaar vir VKO begroot. Die bedrag sal na verwagting in Tito Mboweni se eerste begrotingsrede op 20 Februarie verhoog word.

Mhlanga sê kinders sal binne die volgende twee jaar met die twee jaar van verpligte VKO-onderrig moet begin. “Die werk word gedoen om te migreer. Ons fokus daarop om die funksie na die DBO te verskuif en voort te gaan met ontwikkeling om die kernprogram van die kurrikulum te herbelyn.”

Klopper reken dit sal vyf jaar duur.

Die nuwe bedeling sal ook bestaande private kleuterskole, soos dié by privaat woonhuise en kerke, raak.

Mhlanga sê privaat crèches en speelgroepies by ’n huis of kerk sal moet registreer by die departement en voldoen aan die departement se vereistes as hulle VKO wil aanbied. As ’n laerskool grond beskikbaar het, mag hulle ’n VKO-gerief bou, mits dit aan vereistes van die departement voldoen, wat nog gepubliseer moet word.

“Almal vra dat ons die vroeë leerjare regstel – ons doen nou presies dit,” sê Mhlanga.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die aankondiging word lankal verwag en is ’n reuse­stap in die regte rigting.

Volgens Deacon het Ramaphosa op die onderwysdepartement se lekgotla in Januarie gesê kinders van so jonk as twee begin in Finland met basiese kodering. Suid-Afrika moet begin om kleintjies se potensiaal vroeër te ontgin.

“Ons moenie net geld ingooi by die matrieks nie; die fondament moet reg wees – kleuterskole moenie net ’n oppas-funksie vervul nie. Ons dink dit is ’n belangrike stap in die regte opvoedkundige rigting.’’

Hy meen die kleuterskool- en dagsorgsektor is tans swak georganiseerd. “Dit is dikwels mense wat sommer by hul huis of by die kerk die sentrums bedryf en dikwels is hulle nie eens geregistreer nie – maatskaplike ontwikkeling het basies net kom kyk dat die kinders veilig is.”

Fedsas wil nie hê kinders moet met ’n agterstand by gr. R instap nie en meen dit sal goed wees as kinders met basiese vaardighede, soos greep op ’n potlood of hoe om ’n blad te vou, gr. R begin.

Meer oor:  Jaco Deacon  |  Elijah Mhlanga  |  Grade  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.