Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Klapjuffrou’ wag op uitslag van nóg ’n dissiplinêre verhoor

Die uitkoms van die dissiplinêre verhoor teen die onderwyseres van die Sans Souci Girls’ High School in Kaapstad wat ’n leerling geklap het, sal nie dadelik bekend gemaak word nie.

Clarissa Venter (34) was op 5 Februarie vanjaar in ’n onderonsie in ’n klaskamer toe ’n leerling haar met ’n tafel gestamp en sy daarna die leerling geklap het.

Sy is dissiplinêr verhoor deur die skool en skuldig bevind aan onetiese gedrag en dat sy die naam van die skool in oneer gebring het. Daarvoor is sy beboet en betaal steeds maandeliks haar boete van R2 000.

Dinsdag is ’n ander dissiplinêre verhoor, een deur die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Sace), voortgesit.

Sace is ’n professionele liggaam waar alle onderwysers geregistreer moet wees om te kan skoolhou. Venter het reeds sowat twee maande gelede met hulle vergader en die saak is uitgestel.

Clarissa VenterFoto: Verskaf

Themba Ndhlovu, woordvoerder van Sace, het Woensdag gesê die voorsitter van die dissiplinêre raad sal eers haar/sy verslag aan die etiese komitee gee voordat die uitslag bekend gemaak word, daarom kan sy nie enige verdere kommentaar oor die uitkoms of proses lewer nie.

Strafregtelike klagte teen Venter is in Augustus in die landdroshof in Wynberg teruggetrek.

Venter gee ook weer by die skool klas. Die leerling het die skool verlaat.

Intussen het die Kamer vir Regstudente (CLS) in ’n verklaring gesê dit is “opmerklik dat die skool gou opgetree en begin het met ’n dissiplinêre proses teen die leerling, wat die slagoffer is, maar nie vir Venter, wat die oortreder was, dissiplinêr verhoor het nie”.

Venter betwis dié stelling en verduidelik dat sy wel deur die skool dissiplinêr verhoor is.

Met dié bewering van die CLS word die voorval ook voorgehou as ’n rassevoorval, wat dit volgens Venter nie was nie.

Sy betwis van die aantygings wat die CLS op Twitter en Facebook maak.

Luidens die CLS is die nasionale onderwysdepartement ook besig met ’n ondersoek oor die skool se beheerliggaam en oor die provinsiale onderwysdepartement.

Venter het vantevore gesê sy gee haar volle samewerking met dié ondersoek.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale departement van onderwys, het gesê die ondersoek duur voort en sal na die gelykheidshof verwys word. “Ons kan nie verder kommentaar lewer oor die saak nie.”

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD), het gesê hulle is bewus van die ondersoek deur die nasionale departement, wat glo begin is ná ’n klag van die leerling se ma.

Hammond het gesê Venter is deur die skool se beheerraad aangestel en nie deur die WKOD nie.

“Die leerling is ondersteuning aangebied, maar haar ma het haar uit die skool gehaal voordat haar dissiplinêre verhoor gehou is,” het Hammond gesê.

Die WKOD het die situasie dopgehou en die beheerraad het Venter verhoor en ’n straf opgelê.

“Die ma van die leerling was glo in kontak met die nasionale departement omdat sy nie tevrede is met die straf wat Venter ontvang het nie.”

Hammond het bevestig die skool het die regte proses gevolg en die WKOD sal nie enige verdere stappe doen nie.

“Die optrede van die leerling, voor en ná die voorval, moet ook in ag geneem word. Ander leerlinge by die skool het Venter verdedig, gegewe vorige optrede van die leerling,” het Hammond gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.