Die Afrikaans-onderwyser by die Sans Souci Girls’ High School in Nuweland, Kaapstad, wat verlede Dinsdag glo een van haar leerlinge tydens ’n onderonsie tussen hulle geklap het, berei haar voor vir ’n hofsaak.
Clarissa Venter (34), die onderwyser, en ’n gr. 9-leerling wat glo geklap is, is Donderdag nadat ’n video van die voorval op sosiale media versprei is, albei hangende ’n dissiplinêre ondersoek geskors.

Clarissa Venter. Foto: Facebook
Die leerling se ma het Maandag gesê haar 16-jarige dogter moet Donderdag voor ’n tugkomitee verskyn.
Op ’n vraag hoe dit met haar kind gaan, het sy gesê: “Onder omstandighede beter as verlede week. Sy probeer sterk wees, daar is geen alternatief nie. En ek moet ook nou sterk wees vir haar.”
Die ma, ’n enkelouer, sê dat sy regsverteenwoordiging vir haar kind gekry het.
“Daar is mense wat hul dienste vrywillig vir ons aangebied het. Ek het nie geld vir regskoste nie en is innig dankbaar vir elkeen wat uitreik.”
Venter en ’n verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), is verlede Vrydag na ’n Kaapstadse prokureur met uitgebreide kennis van strafregtelike sake.
Chris Klopper van die SAOU het Maandag gesê hulle is na die prokureur om Venter by te staan sou sy voor ’n hof gedaag word.
Die ma van die gr. 9-leerling het verlede Woensdag nadat ’n video van die onderonsie op sosiale media versprei is, ’n klag van aanranding teen Venter by die Claremont-polisie ingedien.
Klopper doen verder ’n beroep op mense om die voorval te sien in die konteks waarin dit gebeur het en om nie die voorval te sensasionaliseer nie.
Venter het op haar beurt ’n soortgelyke klag teen die kind by dieselfde polisiekantoor ingedien.
Klopper sê die dissiplinêre ondersoek teen Venter en die leerling behoort teen Vrydag afgehandel te wees. So ’n ondersoek neem gewoonlik tussen vyf en tien werkdae, sê hy.
Volgens hom gaan hulle beslis daarop aandring dat Venter deur ’n geskikte persoon by die dissiplinêre ondersoek verteenwoordig word.
“Word sy nie deur iemand bygestaan nie, sal dit daarop neerkom dat sy nie ’n billike verhoor kry nie.”
Hy sê Venter sal volgens Arbeidswetgewing voor ’n dissiplinêre komitee gedaag word en die leerling volgens die skool se gedragskode.
Klopper doen verder ’n beroep op mense om die voorval te sien in die konteks waarin dit gebeur het en om nie die voorval te sensasionaliseer nie.
“Dit kan net ’n negatiewe uitwerking op die leerlinge sowel as die onderwys in die algemeen hê,” sê hy.
Venter self wou nie kommentaar lewer nie.